Local sportSport

Spelers se afwesigheid raak Pumas

Nóg 'n slot, Eduan van der Walt wat na 22 maande weer vir die Guillain-Barré- sindroom behandel word, sal tien teen een nie weer rugby speel nie.

Die Steval Pumas skop hul Absa Curriebeker-premierliga vroeg in Augustus sonder drie van hul staatmakers af.

Die Laevelders speel Vrydag 7 Augustus teen die Haaie.

Die stut, Drew van Coller ondergaan volgende week sy vierde nekoperasie. Van Coller het sy laaste wedstryd vir die Pienktruie tydens die span se Vodacombekerstryd teen die Luiperds in Potchefstroom uitgedraf.

“Dit was nie juis ‘n moeilike besluit om te neem nie, want die dokters het die besluit vir my geneem. Om vir die soveelste nekoperasie te gaan op die ouderdom van 28, is niks lekker nie en ek wou nog soveel bereik het.

“Ek het groot drome gehad, maar daar is ‘n ander plan met my lewe.” Hy vertel verder dat hy baie hartseer was dat hy weer seergekry het, maar is positief oor die toekoms.

“Dit is beslis ‘n nuwe hoofstuk in my lewe. Ek het ‘n paar dinge in die pyplyn – dalk ‘n afrigter of ‘n beroepsjagter.”

Die 1,87m-speler het in 2008 sy debuut by die Cheetahs gemaak waar hy daarna Griekwas toe is. Hy het in 2012 by die Pumas aangesluit en 33 keer die Pumas-trui oor sy kop getrek.

Frikkie Spies (slot), sukkel met ‘n kruisligament aan sy linkerknie en moet aan die einde van die maand daaraan
laat opereer.

Hy kan maklik tussen ses en agt maande buite aksie wees.

Nóg ‘n slot, Eduan van der Walt wat na 22 maande weer vir die Guillain-Barré- sindroom behandel word, sal tien teen een nie weer rugby speel nie.

“Dit gaan elke dag beter met hom. Teen die einde van verlede week kon Eddie al ‘n papierkoppie vashou en sy linkerarm 90 grade buig. Hy’t selfs vir ‘n paar minute gestaan en kan al self regop sit,” vertel die spandokter van die Pumas, dr. Kobus Hugo.

Twee spelers wat tans met beserings sukkel, maar voor die Curriebeker wedstrydfiks sal wees, is Wilmaure Louw en Jacques Momberg.

Die senter het ‘n skouer- en Momberg het ‘n kniebesering, maar sal binne drie weke weer saam met die span kan oefen.

“Dit is vir ons ‘n groot verlies. Elkeen van dié spelers het ‘n groot rol in ons suksesverhaal van die Vodacombeker gespeel.

“Ons het ‘n lys van spelers, veral op slot en stut van ander unies wat ons graag vir die Curriebeker wil nader,” sê die afrigter
van die Pumas, MJ Mentz.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button