Zimbabwe wys hul staal op die rugbyveld
Alhoewel die plaaslike span nie een van die twee kragmetings kon wen nie, het hulle verlede Saterdag Zimbabwe hard vir hul oorwinning laat werk.

Met die aanloop tot die Coca-Cola Cravenweek vir laerskole, het die twee buurstate, Namibië en Zimbabwe ‘n opwarmingswedstryd teen ‘n saamgestelde span van Ehlanzeni by die Witrivier Rugbyklub gespeel.
Die 22 spelers wat deel van die plaaslike span vorm, het in die laaste ronde van die Pumasproewe uitgeval. Alhoewel die plaaslike span nie een van die twee kragmetings kon wen nie, het hulle verlede Saterdag Zimbabwe hard vir hul oorwinning laat werk.
Zimbabwe se Munashe Maisera het in die eerste helfte gedruk nadat die tuisspan baie meer balbesit en gebiedsvoordeel gehad het. Die haker, Brendan Maison het nie die drie verdoel nie. Skaars twee minute na die eerste vyfpunter, het Munashe weer agter die pale gaan kuier met behulp van slot, Nyasha Gumbo en die agsteman, Munashe Mhere.
Drie minute voor die fluitjie geblaas het om die einde van die eerste helfte aan te kondig, het Ehlanzeni gedruk. Die telbord was teen rustyd 10-5 vir Zimbabwe.
Caleb Naude het manalleen die bal vir Ehlanzeni oor die lyn gedra en die gaping na 15-10 laat krimp. Die skeidsregter het ‘n geelkaart aan Milton Manyangadze oorhandig nadat hy ‘n speler hooggevat het.
Dit het die manne van Zim nie in hulle spore gestuit om ‘n drie te druk nie. Panashe Masaya het oor die lyn geduik met Brendan wat verdoel het.
Die senter, Magura Nyanga het ‘n praglopie van oor die 50 meter onder die pale gaan afrond.
Punte
• Zimbabwe 25 Ehlanzeni 15
• Namibië 24 Ehlanzeni 5.
