Kriel laat weer die rekords in die bad spat
Ses atlete van Nelspruit Swem Akademie (NSA) het die afgelope naweek aan die Speedo Prestige-gala in Durban by die Kings Park-swembad deelgeneem.

Die atleet met leergestremdhede, Christelle Kriel, kon nie vir ‘n beter 21ste verjaardag gevra het nie. Nie net het sy saam met die ander swemmers deelgeneem nie, maar sy het haar persoonlike beste tyd in vyf van haar sewe items gekry.
Ses atlete van Nelspruit Swem Akademie (NSA) het die afgelope naweek aan die Speedo Prestige-gala in Durban by die Kings Park-swembad deelgeneem.
Kriel neem gewoonlik in die klas S14 vir swemmers met leergestremdhede deel. Sy het Saterdag die uitdunne in ses van haar sewe items behaal. Vir die derde agtereenvolgende gala, het sy haar Afrika-rekord in die 200-meterrugslag gebreek. Sy lê tans derde op die International Paralympic Committee-ranglys na dié rekord. Sy het ook die 100-meterrugslagtyd na 01:17,07 verbeter.
Giano Dos Santos het vir seuns 11 tot 12 jaar deelgeneem en twee silwermedaljes in die 50- en 100-meterrugslag onderskeidelik om sy nek gehang asook ‘n bronsmedalje in die 50-metervlinderslag.

Nóg ‘n gestremde swemmer, Raymond de Freitas het sy tyd op die 200-meterborsslag met 31,21 sekondes verbeter. Jimmy Munro het ook sy 200-meterwisselslagtyd met 29,35 sekondes verbeter.
Jodi dos Santos kan ook tevrede met haar prestasie wees nadat sy in al vier haar items uitstekend gevaar het – sy het ‘n gemiddeld van drie en ‘n half sekondes op elk van haar items verbeter. Skye Munro het in die uitdunrondes uitgeblink en het sterk kompetisie gehad. Sy het ook haar persoonlike beste tyd in ses items op die dag verbeter.

“Ons is baie tevrede met die uitslae as jy in aanmerking bring dat ons nog nie lank met die swemmers werk nie. Dit is alles te danke aan die afrigter, Gideon du Toit en die toewyding van die swemmers,” het die direkteur van NSA, André Cloete na afloop van die naweek vertel.
Jordyn Minifie van UniSwim het twee jeugnasionale tye in die 400- en 200-meterwisselslag geswem wat vir haar twee silwermedaljes in die sak gebring het.
