Local sportSport

Roem wink in Frankryk vir belowende klubspeler

Daar is tans twee klubs wat in Van Tonder belangstel. "Ek wil nie by een klub bly nie. Ek wil rondbeweeg en myself so opwerk om hopelik binnekort vir 'n Franse Top-14 klub uit te draf. Toulon sal natuurlik my eerste keuse wees."

“Dit lyk na ‘n uitdaging en is beslis iets nuuts wat ek aanpak. Die provinsie het my nie die geleentheid gegee om myself te bewys nie.” So voel die rugbyspeler, Tjokkie van Tonder wat op pad na Macon, Frankryk toe is om sy liefde vir die sport voort te sit.

Macon Rugby
Die klub, Macon se embleem.

Dié 27-jarige speel tans vir Nelspruit Rugbyklub (NRK) en is ook die voorste puntemaker in die Laeveld-liga met
14 drieë in net agt wedstryde. ‘n Agent uit Frankryk het hom verlede week geskakel om vir ‘n maand op ‘n toetsbasis te kom speel. “‘n Vriend van my, Eddie Gauche het nou by Romans geteken en hy het ‘n agent gekry om my te skakel. Ek het kans tot die einde van die week om geld in te samel, maar dit lyk belowend.” Sodra die klub hom ‘n aanbod maak, betaal hulle die geld aan hom terug.

Daar is tans twee klubs wat in Van Tonder belangstel.

“Ek wil nie by een klub bly nie. Ek wil rondbeweeg en myself so opwerk om hopelik binnekort vir ‘n Franse Top-14 klub uit te draf. Toulon sal natuurlik my eerste keuse wees.”

Die Franse klubs se seisoen strek van September tot April en ‘n kontrak werk op ‘n jaarlikse basis, maar kan ‘n opsie van twee jaar wees. “Hulle spelpatroon sal beslis ‘n aanpassing vir my wees. Ek is gewoond aan hoë-tempo rugby, maar hulle weersomstandighede laat dit nie toe nie.”

Klubrugby
Tjokkie van Tonder in aksie.

Hierdie is Van Tonder se tweede jaar by NRK. Hy het voorheen vir Witrivier en Barberton uitgedraf. “Nelspruit laat my toe om my eie rugby te speel en die manne daar gee my die kans om dit te doen. Hierdie is tot dusver een van my beste seisoene.”

Hy het as skoolseun rugby gespeel, maar daardie jare dit nie so ernstig opgevat soos nou nie. “Ek het vorm begin kry by klubrugby. Toeskouers het my meer begin komplimenteer met die tipe rugby wat ek speel. Ek probeer al hoe lank om by ‘n oorsese-klub in te kom, en nou dat ek dit het gaan ek dit met albei hande aangryp. ‘n Mens word nie jonger nie en ek moet nou hierdie kans gebruik om die sport te kan speel totdat my liggaam dit toelaat.”

Van Tonder se twee kinders wat wedstryd na wedstryd langs die veld staan om hul pappa aan te moedig, is sy grootste motivering waarom hy oorsee gaan. “Dit is ‘n langtermyn besluit, maar ek gaan hulle baie mis. Ek moet aan die toekoms ook dink, en ek weet dit gaan die moeite werd wees.”

As iemand hom graag wil help om sy droom na te jaag, skakel 082-227-4733.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button