Gholfspelers tree aan vir rehabilitasiesentrum
Healing Wings se Good Samaritan-fonds baat by die gholfdag.

Gholfspelers het Donderdag vir vierbal-potte ten bate van Healing Wings Rehabilitasiesentrum aangetree. Vriende het van die geleentheid gebruik gemaak om ‘n bietjie in die sonskyn te kuier, terwyl pa’s die skoolvakansie kon benut om saam met hul seuns die grasbaan aan te pak.
Dit was die rehabilitasiesentrum se eerste gholfdag vir welsyn en is by Matumi aangebied. Hulle beoog om dit ‘n jaarlikse instelling te maak.
Alle fondse sal vir dié organisasie sonder winsbejag se Good Samaritan Fund aangewend word, verduidelik Belinda Bilton, ‘n berader en groepfasiliteerder.
https://vine.co/v/en9vDXjVgWj
Die rehabilitasiesentrum reik uit na dwelm-, alkohol- en seksverslaafdes sowel as mense wat aan eetversteurings ly. Dit poog om ‘n verslawingsvrye leefstyl deur die voorsiening van effektiewe behandeling te ontwikkel.
“Die fondse word gebruik om mense te help wat nie sorg kan bekostig nie. Ons ontvang daagliks versoeke van mense wat desperaat is vir hulp,” sê Bilton.
Healing Wings was hoogs beïndruk met die deelname en borgskappe wat hulle kon lok. Die fondse sal beddens borg. Persone wat skenkings wil maak, kan Healing Wings by bronwyn@healingwings.co.za kontak.













