Halls se 25ste sien blitsige tye
In 1990 het 'n handjie vol atlete die Halls-halfmarathon en 10km-wedren die eerste keer deur die plase van die omgewing gehardloop.

Dit is tjoepstil en ewe skielik hoor mens hoe duisende atlete in die grondpad aangehardloop kom. Die stof slaan rondom hulle op soos hulle skoene die grond tref.
In 1990 het ‘n handjie vol atlete die Halls-halfmarathon en 10km-wedren die eerste keer deur die plase van die omgewing gehardloop.
Nóú, 25 jaar later, het ‘n rekordgetal-inskrywing van oor die 1 000 atlete die golwende terrein bekend vir sy pragtige natuurskoon Saterdag aangedurf.
Die eerste twee plekke in die half-marathon is deur LVCC-atlete verower. William Mothosola het in ‘n blitsvinnige tyd van 01:08:49 klaargemaak en Ntuthuko Maseka was kort op sy hakke in 01:08:53.
Definition se Noria Sibanda het die goud om haar nek gehang vir die eerste vrou wat die wedloop voltooi het. Sy het dit in 01:28:37 gedoen. Nóg ‘n lid in die liggroen, Nontokozo Dlamini was tweede in 01:29:16.
Nie net is die wedloop reeds 25 jaar aan die gang nie, maar Halls vier vanjaar ook hul 125ste verjaarsdag. Die kilometers het die atlete deur die plase in die Laeveld gevat, deur lietsjie-, avokado-, pekanneut- en lemoenboorde.
Die gebulk van Jersey- en Bonsmarabeeste het die atlete aangespoor en sommiges het selfs ‘n krokodil of twee op die walle van die Krokodilrivier opgemerk.
Van Wettens en Bateleur-landgoed se kampioen, Folavio Sehohle het die 10-kilometer in ‘n tyd van net 29:12 gewen.
Born to Win se Abednico Mashaba was tweede in 29:28 en hy is deur die Puk-atleet en voormalige leerder van Hoërskool Nelspruit, Johardt van Heerden in 30:20 gevolg.

Boxer se Simony Weitsz het nie net die beste tyd vir juniors gehardloop nie, maar sy was ook die algehele wenner in die vroue-kategorie in 36:41. Lyndi Roelofse was net vier sekondes na Simony oor die wenstreep en Marli van Staden was derde in 37:32.

