Sterk bene maak verskil in Das Auto-fietswedren
Dit is heelwat minder inskrywings as die eerste en tweede been, maar dit sal beslis nou weer meer word, aangesien die skole Maandag heropen het.
Altesaam 206 fietsryers het onlangs aan die derde been van die Das Auto-wedren, wat by Penryn College gehou is, deelgeneem. Dit is heelwat minder inskrywings as die eerste en tweede been, maar dit sal beslis nou weer meer word, aangesien die skole Maandag heropen het.
Hennie Kriek se bene het oudergewoonte die res van die 50-kilometerveld stukkend gery en die eerste plek in 01:53:59 verower. Kriek het nie aan die tweede been wat op 20 Junie plaasgevind het, deelgeneem nie. Die ryer in die tweede plek, Bester Burger het nie op sy tyd verbeter nie en moes met 02:04:31 tevrede wees.
Die Valencia-ryer, Samantha Sanders het stof in haar opponente se oë geskop en die eerste posisie met ‘n voorsprong van meer as 16 minute behaal. Haar tyd was 02:07:16 met Heila Meintjies tweede in 02:25:52.

In die 25-kilometer het Armand Lombard die wennerstui aangetrek nadat hy in net onder ‘n uur in 59:01 die roete voltooi het. Keegan Clarke was tweede in 59:15 en Ryan Terry derde met 59:43. Die 18-jarige Mandie Swart het ‘n uitstekende tyd op haar fiets gery en die roete in net 01:13:42 voltooi. Haar suster Monique moes aan die begin ontrek het en kon nie haar wedren voltooi nie.
Die 15-kilometer mansafdeling is deur Reuben Liebenberg gewen nadat hy ook gemaklik in 37:57 klaargemaak her het. Die ryer in die tweede plek, Karabo Malatji was drie minute agter Reuben in 41:32.
Zandi Strydom het die dogters gewys wie’s baas en amper selfs Rueben se tyd verbeter. Sy het eerste in 38:31 klaargemaak.
Die volgende been is Saterdag 8 Augustus, weer by Penryn College.
Gallery: 206 riders take on the Das Auto
