Die finale span van 12 moet nog aangekondig word. Mits Carmen dit haal, sal hulle tien teen een na Australië toer waar hulle aan die o/17-Junior Wêreldbekertoernooi sal deelneem.
Carmen Cronje is die enigste netbalspeler van die Laeveld wat die Suid-Afrikaanse o/17-oefenspan gehaal het.
Dié groep van 35 dogters is aan die begin van die maand by die Suid-Afrikaanse Skole-netbaltoernooi in Boksburg bekendgemaak.
“Dit was nog altyd my droom om die span te haal. Voor die toernooi in Boksburg het ek baie hard gewerk en toe ek daar aankom, toe sien ek almal is langer en almal kan hoër as ek spring. Ek het vir myself gesê as ek nie die span haal nie, sal dit nie die ergste wees nie.”
Net vier uit die hele Mpumalanga het dit gehaal met meeste van die dogters wat van die Wes-Kaap en Gauteng afkomstig is.
Carmen in aksie.
Die finale span van 12 moet nog aangekondig word. Mits Carmen dit haal, sal hulle tien teen een na Australië toer waar hulle aan die o/17-Junior Wêreldbekertoernooi sal deelneem.
Dié leerder van Hoërskool Nelspruit het vir die vyfde agtereenvolgende jaar vir die provinsiale span gespeel. “Ek sal aan my fiksheid moet werk en meer beweeglik in die sirkel moet wees. As ek nie op hulpdoel gebruik gaan word nie, sal ek ook aan my verdediging moet werk.”
Die 1,74-meter speler en haar jonger sussie, Chanel voel ewe sterk oor dié sport.
“Ons speel op dieselfde posisie en oefen saam. Sy is my beste maat. Ek het net van die begin af geweet netbal is deel van my plan in die lewe. Dit vloei deur my are en die feit dat dit ‘n spansport is maak dit lekkerder. ‘n Speler en span wat eintlik jou aartsvyand behoort te wees, word oor die jare jou beste pêl.”
Carmen en haar beste maat, Chanel.
Die voormalige Protea-netbalspeler, Elize Kotze, is Carmen se grootste sportheld. “Sy het ‘n netbalplaas in Rustenburg en ek woon af en toe van haar kampe by. Sy is beslis iemand waarna ek opkyk. Sy is ‘n ongelooflike vrou.”
Die donkerkop hoop om ‘n netbalbeurs na matriek los te speel en wil graag met die sport aanhou.
“Ek besef ek kan nie ‘n lewe uit die sport maak nie, maar ek gaan hard werk om ‘n professionele speler te word. Ek stres glad nie op die baan nie, nie eens as ek die bal in die ring moet gooi nie.”
At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!