Nelspruit troef Witrivier in Laeveld-rugbyliga
Die kans is goed dat hierdie twee aartsvyande mekaar in die Mpumalanga-finaal weer die stryd kan aansê.
Vir maande swoeg die manne tydens oefeninge en wedstryde oor naweke. Dikwels word hulle genoop om die kyk van Superrugbywedstryde en selfs Springbok-toetse prys te gee, want hul klubliga-wedstryde word dieselfde tyd gespeel.
Dit is dan ‘n soete belewenis wanneer dié moeite beloon word en jou klub as die Laeveld-ligawenners gekroon word. Nelspruit Rugbyklub se eerste en tweede spanne kon Saterdagmiddag beide hul eweknieë van Witrivier die loef afsteek in die streek se klubrugbyliga-finale. Dis op Nelspruit-klub se velde gespeel.
Ondersteunders van albei dorpe het hul onderskeie spanne kom bystaan en meer as 5 000 toegangskaartjies is verkoop.
Die toeskouers is met ‘n naelbyt-eerstespanfinaal beloon. Nelspruit het die wedstryd met 33-28 gewen, en dit was eers met hulle laaste drie, minute voor die eindfluitjie, dat hulle vir die eerste keer voorgeloop het.
Witrivier het vroeg in die eerste helfte verrigtinge geopen met ‘n verdoelde drie. Nelspruit se skrumskakel, Tjokkie van Tonder kon daarna twee strafskope oorsit, voor Witriver weer ‘n drie verdoel het. Dis deur die besoekers met nog van dieselfde opgevolg om hul voorsprong tot 21-6 te vergroot.
Van Tonder kon wel weer een agter die pale plant, maar kon dit nie verdoel nie.
Witrivier se agterlyn het die bal baie goed versprei. In lynstane en skrums was daar nie veel tussen die twees panne te kies nie.
Teen rustyd was Nelspruit met 14-21 agter. Hulle het egter vroeg in die tweede helfte teruggeveg om ‘n drie te druk wat Van Tonder nie kon verdoel nie. Witrivier het met nog ‘n drie geantwoord wat hulle kon verdoel om hul voorsprong tot 28-19 te vergroot.
Nelspruit kon toe nog ‘n drie druk wat deur heelagter Collen van Staden verdoel is. In die doodsnikke kon hulle wéér druk en Van Staden het hom ook verdoel kort voor die eindfluitjie geblaas is.
Die laaste twee drieë is albei in die hoekie gedruk en hy moes mooi mik om albei oor die pale te stuur.
Puntemakers
Nelspruit – Drieë: Tjokkie van Tonder (2), Divan Cronjé (1), Jacques Viljoen (1) Doelskoppe: Collen van Staden (2), Strafskoppe: Tjokkie van Tonder (3).
Witrivier – Drieë: Driaan Barnard, Cobus Janse van Rensburg, Ross Omahoney, Deon Scholtz, Doelskoppe: Tiaan Marx (4).
Nelspruit se tweede span kon Witrivier meer oortuigend wen. Hulle het na 80 minute met ‘n telling van 42-13 as wenners uit die stryd getree.
Die klub het al die spelers, afrigters, bestuurspan, ondersteuners en toeskouers bedank vir hierdie oplewing in klubrugby. Nelspruit se eerste span speel more tuis teen Sasol Secunda in die semifinaal.
- Lees hier oor Nelspruit en Witrivier rugbyklubs se vorige kragmeting hierdie seisoen.






