Pumas slaggereed vir Curriebeker
Superrugby-leenspelers wat na die Steval Pumas-stal terugkeer, sal moet uithaal en wys tydens die komende Absa Curriebeker.
Die Steval Pumas se groep is verlede week deur die afrigter MJ Mentz aangewys, kort voor die span na Kaapstad vertrek het vir die laaste week van voorbereiding vir die gesogte Absa Curriebeker. Die span het gemaklik teen die DHL WP gewen.
Die Laeveldspan sal vanjaar sonder die staatmaker, losvoorspeler Renaldo Bothma moet klaarkom weens sy dienste vir Namibië in die Wêreldbekertoernooi. Maar daar sal na verwagting op die Superrugby-spelers gesteun word.
Corné Fourie, wat vir die Emirates Lions gespeel het, sal weer op loskop diens doen. Lubabalo Mtyanda, oftewel Giant, wat skitterende rugby vir die Cell C Sharks gespeel het, sal op slot sak. Vincent Koch en Faf de Klerk, die Superrugby-staatmakers wat tans by die Springbokgroep betrokke is, sal moontlik eers ná die aankondinging van die Wêreldbekergroep laat in Augustus deur die Suid-Afrikaanse Rugby-unie vrygestel word om te speel.
“Ons groep bestaan vanjaar voorwaar uit ‘n goeie groepering van ervare en jong spelers,” sê Mentz.
“Die feit dat ons die Vodacombeker vanjaar met hierdie talentvolle groep gewen het, maak ons kinderlik opgewonde vir die Absa Curriebeker. Ja, dit is totaal en al verskillende kompetisies en ons is deeglik bewus dat ons tweede jaar in die premierafdeling beslis nie kinderspeletjies gaan wees nie.
“Ons verwag niks minder as klipharde rugby nie, veral hier op Fort Mbombela.
In die laaste vyf weke het die groep baie hard gewerk en het ons daarom besluit om ons laaste voorbereidingsweek in die Kaap te doen.”
Pieter Burger, besturende direkteur van Pumas Rugby, sê hulle glo die rugbypubliek sal tydens die toernooi in hul duisende na die stadion stroom, nie net om hul Pumahelde nie, maar ook die opponente se Superrugbysterre in aksie te sien.
“Fort Mbombela gaan beslis sy naam gestand doen as die stadion waar ‘n rugbyoorlog Vrydagaand na Vrydagaand gevoer sal word,” sê hy.
Die 2015 Steval Pumas Absa Curriebekergroep is:
Vaskoppe: De-Jay Terblanché, Khwezi Mona, Vincent Koch
Hakers: Frank Herne, Jacques Momberg, François du Toit
Loskoppe: Corné Fourie, Sabelo Nhlapo, Simon Westraadt
Slotte: Marius Coetzer, Lubabalo Mtyanda, Rudi Mathee, Jannie Stander, Marco Kruger
Losvoorspelers: Brian Shabangu, Marnus Schoeman, Jaco Bouwer, Uzair Cassiem, JJ Breet, Jason Fraser, Lambert Groenewald
Skrumskakel: Sinovuyo Nyoka, Reynier van Rooyen, Johan Herbst, Faf de Klerk
Losskakel: Justin van Staden, JC Roos
Senters: Stefan Watermeyer, Hennie Skorbinski, Dewald Pretorius, Wilmaure Louw, Jerome Pretorius, Heinrich Steyl
Vleuels: Rosko Specman, Marcello Sampson, Bernado Botha, Ruwellyn Isbell
Heelagters: JW Bell en Hoffman Maritz.
- Die span se Absa Curriebekerseisoen skop op 7 Augustus in Mbombela af met wedstryd teen die Cell C Sharks. Seisoenkaartjies kos R360 per volwassene en R50 ekstra per skolier wat hulle vergesel.
- Wedstrydkaartjies beloop R80 per volwassene en R10 per skolier. Kaartjies is by Computicket en Mbombela Stadion beskikbaar.
Die Steval Pumas se tuiswedstryde op Mbombela Stadion:
7 Augustus: Cell C Sharks om 18:00
28 Augustus: Xerox Lions om 19:00
18 September: EP Kings om 17:00
3 Oktober: Toyota Cheetahs om 13:15
9 Oktober: Vodacom Blou Bulle om 18:00.
