Ryers bereik groot hoogtes
Die bergfietsryers, Max Knox en Rourke Croeser het die Isuzu 3 Towers loshande gewen.

Die span van Biogen/USN het oor die drie dae in ‘n algehele tyd van 07:41:01 klaargemaak – drie minute vinniger as die span van RECM se Erik Kleinhans en Nico Bell wat die totale klim van 4 400m in die tweede plek afgesluit het.
RECM kan heel tevrede oor die tweede plek voel nadat die span verlede jaar 12de geëindig het. Gawie Combrink en Johann Rabie was derde in 07:49:29 en het ook een plek opgeskuif sedert hulle vierde plek in 2014.
“Ons het van dag een af ‘n hoë standaard vir onsself gestel. Ons het die eerste twee dae gedomineer, maar ongelukkig op die derde dag so vyf kilometers voor die eindstreep, het ek ‘n papwiel gekry. Ons moes stop en die band omruil, wat ons baie tyd gekos het.
“Dit was ‘n fantastiese wedren en dit is ‘n eer en voorreg om dit te kon wen,” het Knox gesê.
Yolandi du Toit en Vera Adrian, Garmin Wheeler het die vroue-afdeling gedomineer en die topposisie met meer as 11 minute ingeneem. Die twee het die totale afstand van 193km in ‘n tyd van 10:04:24 voltooi. Amy Beth McDougall en Grant Usher van Valencia Hippies was die wenners in die gemengde kategorie in 09:37:45.
“Die ryers was beïndruk met die nuwe roetes wat vir vanjaar se wedren opgestel is. Die roetes was in ‘n topkondisie en die snikhete op die laaste dag het dit baie uitdagend vir die ryers gemaak. Ons het reeds groot planne vir volgende jaar,” het die organiseerder, Mark Meyer gesê.
Die tweede kategorie, die challenge, is deur Liam de Klerk en Reinard Zellhuber in ‘n tyd van 06:41:52 gewen en Emily Clarke en Kirsten Gillespie was die vrouewenners in 08:52:22. In die gemengde afdeling was Samantha Sanders en Justin Victor baas met ‘n tyd van 08:27:05.
Die laaste kategorie is oorheers deur Jan-Hendrik en Frans Stander. Kea Smith en Anna-Elisa Gutierrez Hernandes het as wenners van die vroue die topposisie beklee en Jessica Schulz en Kobus Pretorius het goud in die gemengde spanne gekry.














































