Swemmers laat rekords spat
Carla Mouton van Curro Swem Akademie is een van vele swemmers wat spogtye by Saterdag se Mpumalanga Ope-kategoriebyeenkoms losgewem het.

Sy het haar tyd in die 100m-borsslag met meer as twee sekondes verbeter as die tyd wat sy onlangs by die Xerox- sprintgala geswem het.
Petro Jiso van Fins het by die vorige gala die 100m-rugslag in 01:15,68 geswem en Saterdag het hy 01:14,25 op die telbord laat staan.
Franco Labuschagne het heelwat op sy tyd in die 50m-borsslag verbeter. Twee weke gelede het hy ‘n 38,58 geswem en Saterdag het hy die stophorlosie op 37,91 gedruk.
Jordyn Minifie (Uniswim) wat tydens Mpumalanga Swem se prysuitdeling as senior swemmer van die jaar aangewys is, het die 400m-vryslag in ‘n tyd van 04:52,94 klaargemaak. Nóg ‘n swemmer van Uniswim, Cherise Mans het Saterdag 0,33 sekondes op haar vorige tyd in die 50m-vlinderslag afgebring en spog met ‘n tyd van 33,15 sekondes.
Fins se Jacey Bekker het onderskei-delik eerste plekke in die 50m-rugslag, 100m-borsslag, 50m-vlinderslag, 100m-vryslag, 50m-vryslag en 100m-rugslag behaal.
Laerskole Nelspruit en Bergland en Hoërskool Nelspruit het reeds hul intehuisswemgala afgehandel. Die volgende gala is die Valencia Somergala op Saterdag 17 Oktober.

































