Local sportSport

Passie vir rugby dryf hom oor die waters

Banie van Aswegen het vrede gemaak met die feit dat hy nooit vir die Steval Pumas gaan uitdraf nie, maar dit het hom nie gekeer om sy liefde en passie vir rugby uit te leef nie.

Die 23-jarige is eersdaags op pad na die Verenigde Koninkryk waar hy op ‘n proeftydperk vir die Whitehall Rugbyklub in Bristol gaan speel. “Ek het reeds verlede jaar op die internet begin rondsoek vir werwingsmaatskappye om moontlik my rugby in Engeland te kan speel. Ek wou nog altyd daar gespeel het. Dit mag dalk soos ‘n cliché klink, maar ek is nog jonk. Die tipe rugby wat hulle speel maak my opgewonde en ek is nuuskierig oor hoe die mense daardie kant lewe.”

Die oudleerder van Hoërskool Barberton se eerste keuse was nie altyd rugby nie, maar krieket. “Ek het nooit rugby gespeel op laerskool nie en het eers in 2004 vir die eerste keer ‘n bal opgetel. Ek het by die derde span begin en daarna het ek vir die eerste span uitgedraf. Na matriek het ek vir Barberton Rugbyklub begin speel.”

Daar is wel een struikelblok… geld vir sy vliegtuigkaartjie. “Ek glo ek sal dit betyds bymekaarmaak. Dit is die lekker ding van die Laeveld – mense is altyd bereid om te help. As ek moet sal ek Saterdag by die verkeerslig gaan staan om geld in te samel.”

Side-step van Aswegen, soos hy onder sy maats bekendstaan, is nie een van die grootste spelers wat sommer bo-oor iemand soos Duane Vermeulen kan hardloop nie, maar sy spoed speel ‘n beduidende rol. “‘n Mens moet kyk na die toekoms. Dit sal dom wees om dit nie te doen nie.”

Mits hy genoeg geld insamel, sal dit die eerste keer wees wat hy op ‘n vliegtuig sal klim. “Ek is skrikkerig, maar tog opgewonde. Ten minste is daar deesdae iets soos selfone en internet.”

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button