Local sportSport

Spanne skerp hul vaardighede vir kampioenskappe op

Terwyl die meeste Bokondersteuners hulself reeds vroeg Saterdag voor die kassie tuisgemaak het, het die Ehlanzeni Skaakspan 'n oefenkamp ter voorbereiding van die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe by Laerskool Bergland bygewoon.

“Dit was uiters suksesvol. Met feitlik voltallige bywoning van al die spanne, was die opgewondenheid en entoesiasme tasbaar,” vertel die sekretaris van Ehlanzeni Skaak, Karen Taljaard.

Van die o/8’s se afrigting (wat eerder soos ‘n karate-klas geklink het) tot die absolute stilte en konsentrasie van die o/18-spanne het elke afrigter en speler hulle daarop toegespits om vir die belangrikste toernooi op die skaakkalender voor te berei wat vroeg in Januarie in Kaapstad plaasvind. Dit was hoëgehalteskaak op sy beste.

Gedurende pouses, het die spelers sokker en krieket gespeel en ‘n lafenissie by die snoepie gekry. Die ouers was soos altyd getrou op hulle pos terwyl al die spanbestuurders vir hul pligte tydens die toernooi voorberei het.

“Dit is ‘n reusetaak om 82 leerders te administreer en om te sorg dat al die reëlings op geoliede wiele loop. Elke persoon speel so ‘n belangrike rol en ons maak seker elkeen weet wat van hulle verwag word,” sê Taljaard.

Met nog net twee kampe oor voordat die groot uittog Kaap toe aangepak word, moet die leerders nou eers op hul skoolwerk en eksamens konsentreer. “Ons wens al ons spelers, en in besonder ons matrikulante, alle sterkte toe met die eksamen.”

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button