Local sportSport

Uniswim raap al die pryse by Somergala op

Uniswim se atlete het met amper al die trofeë by Saterdag se Uniswim SPAR Somergala wat by Van Riebeeckpark plaasgevind het, weggestap.

Guppie se Carolien Pienaar het die prys vir junior victrix ludorum verower nadat sy al agt haar items gewen het. Dié o/10-dogter, het met haar eerste duik in die waters die 50m-borsslag in ‘n tyd van 48,03 kafgedraf. Daarna het sy goue medaljes in die 200m- individuele wisselslag met ‘n tyd van 03:11,57, die 50m-vlinderslag in 36,78, die 100m-vryslag met 01:17,78, die 50m-rugslag met 42,19, 100m-vlinderslag in 01:29,77, 100m-borsslag in 01:43,17 en 50m-vryslag met ‘n tyd van 36,12 verower.

Die victrix ludorum is aan Thelise Saunders, Uniswim (o/15) toegeken vir uitstaande prestasies in die 200m- individuele wisselslag (02:38,80) en die 100m-borsslag (01:25,30).

Die titel van senior victor ludorum is deur Derek Shaw en Reinhard Steyn, albei van Uniswim gedeel. Die o/16-seun, Derek het goud in die 200m-individuele wisselslag, 100- en 50m-vryslag ingepalm. Reinhard wat ook vir seuns o/15 deelgeneem het, het ‘n eerste plek met ‘n tyd van 03:23,71 in die 200m-borsslag beklee.

Landau van Rooyen, Jordyn Minifie en Liza-Mari Drummond is as beste individuele swemmers na afloop van die dag benoem. Alhoewel Landau twee tweede plekke verower het, is hy as die beste senior swemmer van die dag aangewys vir verbeterde tye in die 100m-vryslag en 100m-borsslag.

‘n Swemmer wat maklik eendag die skoene van Penny Heyns kan volstaan, Liza-Mari het al ses haar items loshande gewen. Sy het die eerste plek op die podium ingeneem vir haar deelname aan die 50m-vryslag, 200m-vryslag, 200m-borsslag, 100m-vryslag, 100m-rugslag en 50m-borsslag.

Nóg ‘n dogter wat die swemwêreld aan die brand swem, Jordyn het eerste in die 400m-vryslag in 04:47,41 aan die kant geraak en weer oë laat rek in die 400m- individuele wisselslag waar sy in 05:14,59 klaargemaak het.

Prestasies
• Junior victrix: Carolien Pienaar, Guppie
• Senior victrix: Thelise Saunders, Uniswim
• Junior victor: Ruan Breytenbach, Hillcrest
• Senior victor: Derek Shaw en Reinhard Steyn (Uniswim)
Beste individuele prestasie:
• Junior dogter: Jordyn Minifie (Uniswim)
• Junior seun: Ruan Breytenbach, Hillcrest
• Senior dogter: Liza-Mari Drummond (Uniswim)
• Senior seun: Landau van Rooyen (Uniswim).

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button