Span palm tweede plek by Kaapse ren in
'n Derde plek in 2014 en 'n tweede plek in vanjaar se Cape Pioneer Trek. Wie weet wat volgende jaar vir Dalene van der Leek en Igna de Villiers van Sasol Racing Mixed-span kan inhou?
Die twee fietsryers van die Laeveld het die sewe dae, 541 kilometers en 11,320-meterklim in ‘n tyd van 26:28:19 voltooi om sodoende die tweede plek op die podium op die laaste dag in Oudtshoorn in te neem. Verlede jaar het hulle derde in 27:49:19 klaargemaak. “Vanjaar se gemengde kategorie was baie strawwer. Ons het probeer om tenminste een skof te wen, maar die kompetisie was te straf omdat daar heelwat internasionale fietsryers ook was.”
Vir die eerste keer in jare, het die roete verander met ‘n ander vertrekpunt om dit meer toeskouervriendelik te maak deur die fietsryers deur die stedelike gebiede te neem. “Op die eerste dag het die tydtoets ons deur die dorp se strate gevat, enkelspoor in fynbos langs die see, deur die hawe, karavaanpark en ‘n treinroete. Die roete oor die algemeen het ons as span gepas. Die Kammanasie-roete was nes verlede jaar ons ergste dag op die fietse. Dit is ‘n rowwe terrein waar jy jou fiets kilometers ver moet stoot omdat dit onmoontlik is om dit te ry.”
De Villiers en Van der Leek het nie beplan om die roete wéér as ‘n span aan te pak nie, maar ‘n maand voor die wedren het nie een van hulle ‘n spanmaat gehad nie, en besluit om weer die perd saam op te saal. “Die weer was fantasies en dit was ‘n goed georganiseerde wedren. Die klim het ons gepas, maar ons het tyd op die tegniese dele verloor.”
Van der Leek het nie ‘n goeie jaar op haar fiets gehad nie weens haar gesondheid wat haar 10 weke van die saal af gehou het.
“Ek en Igna het nie voor die tyd bespreek om te verbeter nie, maar ons is albei baie kompeterend. Inga is ‘n fantastiese spanmaat – hy sal nooit ophou veg nie. As ek ooit oorlog toe moet gaan, sal ek hom as my maat kies,” vertel Van der Leek met ‘n glimlag.
Die gemengde kategorie is deur Kobus en Fienie Barnard van Klein Karoo in ‘n tyd van 25:27:56 gewen. Kort op die Laevelders se hakke, was The Bicycle Service Company se Monica Glover en Danny Fowler in 26:31:55. “Op die laaste dag, was daar ‘n tydverskil tussen twee en drie. Hulle was honger om ons verby te steek, maar ons taktiek vir die laaste dag was om net by te bly. Ons was senuweeagtig aan die begin.”
Mits die twee weer die wedren in 2016 aanpak, sal hulle sonder twyfel vir die topposisie baklei. Die wedren het vanjaar in Mosselbaai op dag ses begin en in Oudtshoorn geëindig.
Igna de Villiers, uitslae vir 2015 (in veteraanafdeling):
• Route66 – tweede
• Clover-toer – tweede
• Ashburton Nasionale reeks, Dullstroom – derde
• Sabie Xperience – eerste
• Izuzu 3 Towers – tweede
• Barberton XCM – tweede
Dalene van der Leek, uitslae vir 2015 (veteraan):
• Mpumalanga Padfiets-kampioenskappe
Padren – eerste
Tydtoets – eerste
Heuwelren – eerste
Kriterium – derde
• Big5 Komatipoort Bergfietsren – eerste
• PE2Plett – tweede.


