Speler as rugbyman van 2015 benoem na gogga weer byt
Willie du Plooy is tydens die Nelspruit Rugbyklub se jaareindfunksie as die rugbyman van die jaar aangewys.

Die trofee word aan ‘n speler toegeken wat nie net op die veld goeie rugby gespeel het nie, maar ook van die veld af die klub se naam hooggehou het. Du Plooy, wat ook die kaptein van die seisoen was, het in 2007 vir Nelspruit begin speel. In 2012 het hy sy rugbyskoene opgehang, maar die gogga het hom weer gebyt. “Ek het die toekenning glad nie verwag nie. Daar is soveel talent in ons klub en die jong manne het hul staal gewys. Ek was verras,” het Du Plooy gesê.
Die vlugvoetige agterspeler, Lloyd Malatji het vir sy uitmuntende vertoning gedurende die APC Noord-toernooi wat onlangs in die Laeveld plaasgevind het, die trofee vir hoogste prestasie van die jaar ontvang. Die meeste drieë van die jaar deur ‘n speler, is aan Damien Janse van Rensburg vir sy 14 toegeken.
“Dit was ‘n goeie jaar vir die klub. Welkom aan al die nuwe spelers wat by ons aangesluit het. Ons derde span, beter bekend as die Koedoes het in die halfeindstryd teen Komatipoort verloor terwyl die eerste en tweede span as Laeveld-kampioene gekroon is. Die klub het in die Puma-eindstryd die knie met een punt teen Witrivier Rugbyklub gebuig. Die funksie was ‘n groot sukses en ons sien uit na die 2016-seisoen,” het die klubvoorsitter Herklaas du Preez gesê.
Statistieke
• Beste bywoning van oefeninge – Morné Crous
• Meeste drieë aangeteken – Damien Janse van Rensburg
• Meeste punte aangeteken – Colin van Staden
Spanverband
• Kuduspan, agterspeler van die jaar – Samuel Govere
• Kuduspan, voorspeler van die jaar – Phillip Potgieter
• Tweede span, agterspeler van die jaar – Tiaan Olivier
• Tweede span, voorspeler van die jaar – Arno Fritz
• Eerste span, agterspeler van die jaar – Jean Botha
• Eerste span, voorspeler van die jaar – Jacques Viljoen
Verdienstelikhede
• Junior speler van die jaar – Divan Cronje
• Belowendste speler van die jaar – Greg Bibby
• Rugbyspeler van die jaar – Gary Visagie
• Hoogste prestasie van die jaar – Lloyd Malatji
Rugbyman van die jaar – Willie du Plooy.










