Local sportSport

Uitkoms van Pumas se gevry na OP-Kings onseker

"Die plan was nooit om die OP-Kings van hul Superrugby-status te onthef nie, maar eerder om 'n vennootskap met hulle te betree."

MBOMBELA – Dit was die kommentaar van die Mpumalanga Rugby Unie (MRU) se besturende direkteur, mnr, Pieter Burger, toe Laevelder hom gister uitgevra het oor mnr. Cheeky Watson, president van die Baai, se verwerping van dié aanbod. Dit volg nadat die MRU ‘n sakeplan by die Suid-Afrikaanse Rugby-unie (Saru) ingedien het in die hoop om saam met die OP-Kings deel van die Superrugby-reeks te wees.

Pieter Burger
Pieter Burger.

“Om sekere uitlatings nou te maak, kan die unie skade berokken. Ons wil met Saru in gespreek tree om met ‘n sinvolle oplossing vorendag te kom. Ons intensie as unie is goed en ons het en wil niks onder die tafel doen nie.”

Watson is nou al geruime tyd in die media weens beloftes van ‘n multimiljoen-borgskap wat tot op hede nog nie realiseer het nie. Van die spelers én die bestuur sit nou al drie maande sonder ‘n salaris. Watson het glo die Pumas se planne gekortwiek en stel nie belang om saam met MRU te werk nie.

Saru en Watson het gister die Kings-unie se geldsake bespreek, asook die heersende kommer oor die unie se vermoë om wel aan volgende jaar se Superreeks deel te neem. Die uitkoms van die vergadering was teen druktyd nie bekend nie.

Die MRU het reeds in Junie 2014 ‘n sakeplan aan Saru voorgelê om tot dié reeks toe te tree. Die president van die unie, mnr. Hein Mentz het destyds gesê dat hy vol vertroue is dat Saru hul aansoek sal ondersteun na die Pumas se sukses in 2013 en dat hulle dienooreenkomstig sal reageer sodra hulle Suid-Afrika, Nieu-Seeland en Australiëse Rugby (Sanzar) se tendervereistes verstaan.

Sterspelers van die Pumas wat onlangs kontrakte met die Kings gesluit het, soos Stefan Watermeyer en JC Roos, is erg gefrustreerd omdat hulle ook nie duidelikheid oor betaling het nie. Roos is een van die gelukkiger spelers wat ‘n spelerversekeringsfonds het, maar Watermeyer word glo eers volgende week in kennis gestel oor die verwikkelinge.

Stefan Watermeyer
Stefan Watermeyer.

Mentz wou nie kommentaar lewer oor waar die Pumas finansiële steun sou kry, sou hul droom van ‘n Superrugby-franchise realiseer nie. “Ek wil graag met jou praat, maar dit sal onverantwoordelik wees om oor die kwessie uit te brei. Al wat ek gaan sê is dat ek die proses waarmee Saru besig is, respekteer en daarby volstaan ek.”

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button