Skaatsplankryers toets hul vernuf teen ons buurland
'n Besoek deur 'n paar van ons buurland se skaatsplankryers, het in die laaste Car Park-liga van die jaar wat Saterdag in Marko se parkeerterrein plaasgevind het, 'n groter uitdaging vir die Laevelders gebied.

“Dit was ‘n lekker uitdaging om teen ander tipe skaatsplankryers mee te ding en om nuwe truuks by hulle te leer,” vertel Reuben du Pisanie nadat Nino van Maputo hom ore aangesit het.
Gewoonlik is daar pryse vir juniors en seniors, maar as gevolg van ‘n buitjie reën kon die kompetisie nie klaarmaak nie. “Ons het groot planne vir volgende jaar. Ons wil elke kwartaal ‘n prys aan die top-skaatsplankryer oorhandig en dan aan die einde van die jaar volgens ‘n puntesitsteem, die Laeveld se beste skaatsplankryer aan te wys,” vertel GSk8te se Gareth Green.
Hy en sy span het hierdie jaar ook besoek aan plattelandse gebiede soos KaBokweni en Amakaya Weeshuis afgelewer. “Dit vorm alles deel van ‘n uitreikprogram om terug te gee aan die gebiede. Ons vaar die strate in om die kinders meer oor die sport te leer, maar ook om tyd saam met hulle te spandeer. By Amakaya Weeshuis het almal op ‘n skaatsplank geklim en ons het soort van ‘n wedren gehou. Dit het soveel gesiggies opgehelder en ons as span het dit net so baie geniet. Ons sal beslis meer sulke uitreike doen.”
Die volgende Car Park-liga skop reeds vroeg volgende jaar aan die einde van Januarie af. ‘n Paar van die truuks wat die manne, en selfs een of twee dogters kan doen is die geboëdraai, 50/50-draai op ‘n boks, ‘n geboëdraai op ‘n A-raam, die 360°-skopdraai en heelwat meer. Hulle grootste doel is om ‘n eenheid onder skaatsplankryers te skep, om na die minderbevoorregtes uit te reik en ook om die jonger generasie meer van God te leer.
