Pumas wys hulle salg in ‘n potjie gholf
'n Paar Pumas kan nie net 'n rugbybal goed aangee nie, maar kan selfs met 'n stok in die hand 'n gholfbal op die skoonveld plaas.

Coenraad Oosthuizen, Christiaan Gouws, Hoffmann Maritz en Jaco Bouwer het vanjaar se Steval Pumas-gholfdag wat by Nelspruit Gholfbaan plaasgevind het, met een hou gewen.
Dit is in ‘n scramble-drive-formaat gespeel en die manne het met koelhouers, R500 se Makro-geskenkbewys én ‘n eetkoepon van R200 by De Vette Mossel weggestap.
Gholfspelers kon op die dag aan ‘n skopkompetisie deelneem wat deur Johan Pretorius gewen is. Hy het ‘n koffiemasjien van R2 800 met sy skopvoet gewen en vir vermaak het hulle van die spelers as uitknipborde gebruik waarmee die spelers ‘n foto kon neem.
JT Halbisch het danksy Union Motors, ‘n gevorderde bestuurderskursus in ‘n AMG Mercedes-Benz gekry, nadat hy die bal op die dag die verste gedryf het.
Die haker, Frank Herne het sy bal die naaste aan die pennetjie geslaan en ‘n R500-geskenkbeyws gekry. Die Heidel Eggs-sethoukompetisie is deur Francois du Toit gewen.
Die vierbal van SUPERSPAR Grove het die langste dag op die baan gehad en is met ‘n pasta-aand bederf.
Die Pumasbreier, MJ Mentz saam met Herman Potgieter, Dennie Taljaardt en Stefan Pogieter was vierde met 102 punte.
Sonbrille, ‘n R200-petrolprys, garagetoerusting, koelerbokse en wyn was deel van hulle prys.
