Local sportSport

Schwartzel doen dit vir ‘n vierde keer

Na die afgelope naweek se Alfred Dunhill-kampioenskap op Leopard Creek, mag jy Charl Schwartzel as die speler sien wat sy demone tem.

Dit was sy 11de toernooi op Leopard Creek, met vier wenne en vier tweede plekke. “Dit is ‘n fantastiese gevoel om weer hier te kon wen. Die afgelope twee jaar was ‘n groot uitdaging, want ek het begin wonder of ek ooit weer ‘n toernooi sal kan wen. Ek het hard gewerk oor die afgelope 18 maande, en dan verwag ‘n speler om die vrugte daarvan te pluk. Ek baklei hard teen die gholfdemone in my kop.”

IMG_6908 (Small)

Alhoewel hy gereeld in die ruveld en veral oor die eerste nege putjies onseker was op die setperke, was hy met vier houe baas.

“Dié toermooi het my oor die jare goed hanteer. Daar is net iets aan die plek wat my rustig laat voel, maar dit tel in jou guns as jy ‘n gholfbaan goed ken en weet waar om te speel. Ek het baie houe op die naweek gemis, maar my kortspel is goed.”

Toe daar aan Schwartzel gevra is of hy meer toernooie hiér sal wil speel, het hy met ‘n groot glimlag op sy gesig gesê, “Ek sal glad nie omgee nie”.

Gregory Bourdy (68) was die naaswenner op 277, Benjamin Herbert (72) was ‘n verdere hou terug in die derde plek en Sebastian Gross (73) vierde op 279.

IMG_6902 (Large)

Die 31-jarige Johannesburger het die laaste dag op -11 afgeslaan en kon eers op die sesde sy eerste voëltjie aanteken. Sy geluk het egter oor die tweede nege putjies gedraai met voëltjies op die 11de, 13de en 14de. “Ek het nie na die telbord gekyk nie. Ek het eers op die 16de gesien ek is voor met vier houe. Al sou ek ‘n brouhou daar geslaan het, sou ek steeds gemaklik voor gewees het. Die setperke is nie altyd maklik om te lees nie, maar my kennis van die baan het my die deurslag gegee.”

Hy het met die sege slegs die derde Suid-Afrikaner na Ernie Els en Retief Goosen geword wat 10 toernooie op die Europese reeks kon wen.

Hy voel egter dat daar steeds klein goedjies is waaraan hy sal moet aandag gee voor die naweek se Sun City-toernooi. “My spel en my swaaihou is waar dit moet wees. Daar is net klein goedjies waaraan ek sal moet werk. Ek het al voorheen in my ghofloopbaan so gevoel, maar ek kan beter. As jy nie goed speel nie, voel dit asof jy harder moet werk.”

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button