Local sportSport

Veelsydige atleet slaan beurs by Uplands College los

Kayla Schefermann (13) het dié joernalis se oog gevang met haar bottelblonde hare en potblou oë toe sy tydens Penryn Preparatory se atletiekinterhuis oor die hoogspringpaal gevlieg het.

Sy is een van 114 leerders wat ‘n toelatingseksamen geskryf het om in aanmerking vir ‘n sportbeurs by Uplands College te kom. ‘n Sekere gemiddeld moet hier behaal word en sy is een van net drie wat in aanmerking gekom het.

As vierjarige het sy met gimnastiek en swem begin. “Sy het altyd op haar hande gestaan en wawiele gedoen. Die afrigter van Nelspruit Gimnastiek Akademie, Maré Putter het haar getoets en toe al gesê sy sal ‘n uitstekende gimnas wees,” vertel haar ouma, Maryanne Bosch. Kayla het tot op vlak vier gevorder en daarna besluit om haar volle aandag aan swem te gee. “Dit was nie ‘n maklike besluit nie, want ek was baie lief vir gimnastiek, maar ek is nie spyt dat ek daardie besluit geneem het nie. Ek geniet swem en daar was net nie genoeg ure in die dag om by alles uit te kom nie,” sê Kayla.

FullSizeRender (Small)

Putter is ietwat spyt dié talentvolle gimnas het opgehou. “Sy het baie potensiaal gehad, maar haar tye met die swem het gebots. Sy moes kies en dit is regtig jammer dat sy nie kon aanhou nie.”

Sy swem nou al nege jaar onder die afrigting van Uniswim Nelspruit se Detlef Schmitz. “Ons swem sowat 7,5 kilometer ‘n dag en oefen tot 15 uur ‘n week. Detlef het ‘n groot impak op my swem. Hy is streng, maar hy het empatie met sy swemmers en ek sien resultate. Hy doen baie vir sy atlete.”

IMG_8738 (Small)

Nie net presteer Kayla in die swembad nie, maar sy is ook as haar skool se victrix ludorum vir die derde agtereenvolgende jaar tydens Penryn se interhuisatletiek aangewys. Sy speel ook graag hokkie en netbal. Sy het haar volle Mpumalanga-kleure in swem verwerf en neem in Desember aan die Suid-Afrikaanse Skole-kampioenskap in Pretoria deel. Sy het ook vanjaar vir vlak-drie gekwalifiseer wat volgende jaar na die nasionale swemkampioenskap toe gaan vir 100- en 200-meter borsslag.

“Ek wil graag ook vir die 100-metervlinderslag en die 200-meter individuele wisselslag (IW) in aksie wees. Ek moet twee weke voordat die inskrywings sluit, die kwalifiseringstye swem. My persoonlike beste tyd in die 100-metervlinderslag is 01,15 en dit moet 01,12 wees en in die 200 IW is dit 02,44 en ek moet 02,40 swem.

Haar toekomsplanne is om vir die seniorkampioenskap te kwalifiseer en dan natuurlik waaroor enige swemmer droom, die Olimpiese Spele.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button