Local sportSport

Onstuitbare passie is in hul bloed

Stof, 'n horde vlieë en 30 honde stuit nie dié twee ruiters in hul skoene om hul droom op die rug van 'n perd uit te leef nie.

Wilko (22) en Hänelize (15) Kamffer is geen onbekende name in dié bedryf nie. “As dit nie vir ons ma, Kraai was nie, sou ons tien teen een nooit die geleenthede gehad het wat ons nou het nie. Sy het ons alles van die sport geleer en sit soveel moeite in elke les in,” vertel hulle.

Wilko het nie soos sy sussie van kleins af enigsins van perde gehou nie, maar eers op 13, toe sy groter sussie hom geterg het, met lesse begin. “Ek het niks van perde gehou nie. Jessica het my eendag geterg en gesê al hoekom ek nie ook deelneem nie is omdat ek bang is ek kan nie so goed soos hulle ry nie. Daar en dan het ek besluit om kompeterend te ry. Ek geniet die buitelug en dit is iets in ons familie. Ek sal nie ophou om die sport te beoefen tot ek die beste is nie.”

IMG_4052 (Small)

‘n Hoogtepunt in sy lewe was die Ruiterskap Kampioenskap op Bravo. “Tussen 2009 en 2011 is ek as die kampioen gekroon. Ek wil internasionaal deelneem, maar ek weet dit gaan harde werk verg.”

Sy eerste en enigste ernstige besering op ‘n perd was in Desember 2013 toe hy sy knie gebreek het. “Ek het in die boonste ring gery en ek het nie besef die saal is los nie. Toe ek weer sien, was ek op die grond met ‘n gebreekte knie. As ek nie met die besering gesukkel het nie, het ek tien teen een nou al vir die wêreldbeker gekwalifiseer. Ek beoog om dit in die volgende twee jaar te bereik.”

wilko (Small)

Hänelize, ‘n leerder van Hoërskool Rob Ferreira, gaan van volgende jaar af tuisonderrig ontvang om meer tyd op die saal deur te bring. “Dit is al wat ek wil doen. Daarna wil ek my studies voltooi en Duitsland toe gaan om voltyds perd te ry.” Sy het as tweejarige, toe sy nog in doeke was saam met haar ma agter op die perd gery en op vier kon sy self ry. Op ses het sy van haar perd, Vlek-Vlek by Mataffin afgeval en was vir vyf uur in die hoëversorgingseenheid, maar dit het haar nie gekeer om verder te ry nie. Sy oefen tot drie en ‘n half uur per dag in die kwartaal en as dit vakansie is, kan sy tot agt uur per dag oefen. “As ek nie perdgery het nie, sou ek tien teen een tennis gespeel het.”

“Ons is mekaar se grootste kompetisie. Ons hou daarvan om mekaar elke naweek uit te daag,” het albei van hulle beklemtoon.

Hoogtepunte 2015
Wilko
• Mpumalanga Kampioenskappe – eerste op Shadow Fly in die 1,20-meterklas
• Wildlife Horse Riding-skou – hy is as die victor ludorum op Shadowfly gekroon na vier skoon rondes.

Hänelize
• Junior derby in Kyalami – ‘n tweede plek in die skou-afdeling op Africa’s Whizz Bar en ‘n sewende plek in die 1,20-meterklas
• Hoedspruitskou – ‘n tweede en ‘n eerste plek vir juniors op Uma, twee tweede plekke en ‘n eerste plek op Rauch on Me (Rooki), twee eerste plekke en ‘n tweede plek op Katanga Ixchel
• Pienaarsdamskou – die junior kampioen met die ope-ruitersklas, ‘n eerste plek op Rooki en ‘n tweede plek op Ixchel in die 1,20-meterspring
• Mataffinskou – die Betty Burger-trofee op Africa’s Whizz Bar.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button