Afrigter kom Pumas ‘n hupstootjie gee
Die Suid-Afrikaanse skole-afrigter, Hein Kriek keer na 20 jaar terug na sy geboortestad waar hy die breier van die Pumas, MJ Mentz gaan bystaan.

Die voormalige Laerskool Malalane-leerder begin Donderdag 7 Januarie met sy dienste by Mbombela Stadion waar hy by die voorspelers betrokke gaan wees. “My rol is eerstens om MJ in die afrigtingspan te help. Verder sal ek help waar die unie my nodig het en ek hoop om ‘n verandering te kan maak in nie net die spelers se lewens nie, maar ook die mense met wie ek te doen gaan kry.”
Die voormalige hoofafrigter van Paul Roos Gimnasium het in 1995 aan Hoërskool Nelspruit gematrikuleer. Hy het o/13 (Welkom) en o/18 (Bloemfontein) Cravenweek gespeel.
“My eerste proe aan rugby was in gr. 1. As ek reg onthou, mag ons eers daardie jare op o/9-vlak begin speel het, maar ek het altyd saam met die ouer seuns rondgehardloop. My beste herinneringe van rugby op skoolvlak was beslis Cravenweek. Dit is enige seun se droom om in die week te speel. Ons grootste kompetisie op skool was, Hoërskool Rob Ferreira en daardie wen in my gr. 11-jaar was nogal iets spesiaal.”
Hy het begin op flank, maar later voltyds haker gespeel. Van sy afrigters op universiteit het hom na senter toe geskuif, maar later gesien dat hy beter in die enjinkamer speel. By die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus het hy ook vir sy koshuis, Over de Voor en gereeld vir Pukke uitgedraf.
Die 38-jarige Kriek het by SA Skole in 2014 begin na ses jaar se betrokkenheid by die Westelike Provinsie Rugby-unie en was ook vier jaar by Hamiltons Rugbyklub in Kaapstad.

Hy sou die Kaap net vir een rede verruil en dit is as hy terug kon trek Laeveld toe. “Pieter (Burger, besturende direkteur van die Mpumalanga Rugby-unie) het my aan die begin van November geskakel en ons het begin gesels. Die geleentheid het homself voorgedoen om by die Pumas aan te sluit en wel, hier kom ek nou. Ek hou van die opset by die Pumas en ook die manier waarop MJ die aanval benader. Dis ‘n goeie unie om by betrokke te wees en ek is baie opgewonde oor die toekoms. Ek het net so ‘n gevoel dat daar groot dinge vir die Pumas voorlê.”
Enige spelers in jou loopbaan as afrigting wat vir jou uitstaan?
“Sjoe! Daar is so baie wat ek al mee gewerk het en elke span het spelers wat spesiaal is op hulle eie manier. ‘n Speler wat my tog na aan my hart lê, is Damian de Allende. Ek het hom reeds op skoolvlak in Milnerton afgerig. Dit maak nie saak wat jou agtergrond is of in watter skool jy is nie, as jy hard werk en goed genoeg is, dan sal jy ‘n Springbok word.”
