Swemsensasies herskryf rekordboek
Gee vir Jetro Piso twee dae in die swembad, en hy swem 10 goue medaljes los én staan met die victor ludorum-trofee onder sy arm.

Tydens die Mpumalanga Swemkampioenskap wat oor die naweek by Van Riebeeckpark plaasgevind het, het dié Fins-swemmer, ook die rekord in die 50-metervlinder- en 200-metervryslag herskryf. Jetro, wat die trofee vir seuns
13 jaar en ouer verower het, het in al 10 sy items eerste plekke behaal.
Met 5 598 punte, is Komatipoort Swemklub se Mel Stronkhorst as die top-mansswemmer van die jaar aangewys. Nie net het hy in sy sewe items eerste plekke behaal nie, maar ook die oë laat rek met die aantal sekondes en selfs minute waarmee hy wen. In die 200-meterborsslag het hy in 68 sekondes afgelê en ook nuwe rekords in die 50-metervlinderslag, 100- en 50-meterbors- en 50-metervryslag opgestel.
Altesaam 16 swemklubs het aan die grootste byeenkoms van die jaar op die plaaslike swemkalender deelgeneem met Uniswim Nelspruit wat as algehele wenner in spanverband aangewys is. Fins Swemklub het die meeste medaljes op die dag verower, met 81 (36 goud, 22 silwer en 23 brons).
Nóg prestasies
Beste swemmers na agt byeenkomste
• Seuns 12 jaar en jonger: Gerard Venter, Curro Swem-akademie
• Seuns 13 jaar en ouer: Mel Stronkhorst, Komatipoort
• Dogters 12 jaar en jonger: Carolien Pienaar, Guppie Tigers
• Dogters 12 jaar en ouer: Stephani Viljoen, Uniswim Middelburg/Witbank.
Beste individuele prestasie
• Seuns 13 jaar en jonger: Giano dos Santos, 100-meterrugslag Nelspruit Swem-akademie
• Dogters 13 jaar en jonger: Stephani Viljoen, 50-metervlinderslag Unwiswim Middelburg/Witbank
• Seuns 13 jaar en ouer: Mel Stronkhorst, 50-meterborsslag, Komatipoort
• Dogters 14 jaar en ouer: Liza-Marie Drummond, 50-metervryslag Uniswim Nelspruit.
Victor en victrix ludorum
• Seuns 12 jaar en jonger: Jimmy Munro, Nelspruit Swem-akademie
• Dogters 12 jaar en jonger: Nicci Viljoen, Nelspruit Swem-akademie
• Seuns 13 jaar en ouer: Jetro Piso, Fins
• Dogters 13 jaar en ouer: Stephani Viljoen.






































