Nuwe kunsgrasbane by Nellies maak groter toernooie moontlik
Hoërskool Nelspruit word die derde skool in die Laeveld wat eersdaags met 'n kunsgras-hokkieveld gaan spog.

Net Curro Nelspruit en Uplands College het tans toegang tot sulke velde.
NHS beoog ook om bykomende rugbyvelde en netbalbane op te rig. Die skool het tans twee rugbyvelde en vier netbalbane, maar sien die addisionele sportgronde as ‘n vergrote deelname vir leerders met meer sportspanne in die onderskeie ligas.
Hokkie is een van die snelgroeiendste sportsoorte op skolevlak. NHS presteer tans goed, maar dit raak al hoe moeiliker om kompeterend te presteer, aangesien die skool nie oor ‘n so ‘n hokkiebaan beskik nie. Die voordeel van so iets kan ‘n verhoogde frekwensie van oefening wees, aangesien meer spanne op ‘n slag kan oefen en ‘n verhoging van die standaard van hokkie, want die sintetiese oppervlak is gelyk en baie vinnig.
Die skool kan dan ook meer kompeterend in ligas deelneem aangesien die skole waarteen NHS speel, ‘n kunsgrasveld het of vrylik toegang tot ‘n nabygeleë kunsgrasveld het. Nou kan die Laeveld ook uitsien na provinsiale en selfs nasionale toernooie.
Rugby én netbal is sekerlik van die sportsoorte waarin NHS die beste presteer. Die huidige fasiliteite stel ‘n baie groot uitdaging aan afrigters en spanne om met die beperkte hulpbronne mededingend voor te berei en te kompeteer. Deur ekstra velde te bou kan leerders ook by die inskerping van vaardighede baat.
