Tennisspelers woeker op die bane
Vanjaar se interdistrikte het hier in Mbombela plaasgevind waarin die Laeveld-span tweede geeïndig het.
Die afgelope naweek het verskeie tennisbane in die stad gewemel met spelers tydens die laaste, geslote-twee toernooi van die jaar. Gedurende die sogenaamde tennisjaar word daar vier geslote toernooie gespeel waarvan die ranglyste opgestel word. Daarna word die interdistrikspanne saamgestel wat teen Wes-Mpumalanga en die Hoëveld speel. Die spelers moet egter aan twee geslote toernooie, soos dié van die afgelope naweek, deelneem om in aanmerking vir die span te kom. Dié geslote toernooi sorg altyd vir groot opwinding en daar was die afgelope naweek strawwe kompetisie, veral tussen die dogters. Vier spelers wat behoorlik gesorg het dat die kwaliteit van die toernooi gelig word, is die Wales- en Alberts-susters. Natasha (o/11) en Kiara Wales (o/13) is van Swaziland en die Albertse, Delouise (o/11) en Beulah (o/13), van Kanada.
Vanjaar se interdistrikte het hier in Mbombela plaasgevind waarin die Laeveld-span tweede geeïndig het. Die toernooi is elke jaar die hoogtepunt op die Mpumalanga junior tenniskalender. Die streek het ook 13 spelers gehad wat Mpumalanga tydens die jaarlikse interprovinsiale tennistoernooi verteenwoordig het. Beslis een van die hoogtepunte die jaar was die jaarlikse o/10-toernooi wat in dieselfde formaat as die interdistriktetoernooi gespeel word. Hier leer die deelnemers om lief te raak vir die sport en dit gee uitstekende wedstrydblootstelling. Alhoewel dit slegs o/10’s is, was die tennis van hoogstaande gehalte.
Hierdie jaar is die eerste keer wat die Laeveld-streek die toernooi gewen het en het vir groot opwinding onder die kinders gesorg. Daar is ‘n ongelooflike groei in juniors en hulle sien almal uit na die nuwe seisoen.
Tydens die algemene jaarvergadering is die volgende spelers as die beste in elke ouderdomdsgroep benoem:
• O/11 – Arili Boshoff en Jovan Lubbe
• O/13 – Michell Boshoff en Ruan van Esch
• O/15 – Clarissa Boshoff en Japie Lubbe
• O/18 – Ane van Vuuren en Schalk Schutte.
