Local sportSport

Jonges wys hulle staal in hengel

Breë glimlagte en rooi velle het Saterdagmiddag gewys dat deelnemers van die Junior Baber Hengelkompetisie groot pret langs die viswaters gehad het.

Die kompetisie is by NST Boerdery gehou en die jong hengelaars en hulle ouers het ‘n gesellige atmosfeer geskep deur kampstoele, gazebo’s en sambrele al om die dam op te slaan.

Tussendeur is daar ook geswem en aan kerrie-en-rys en ander lekkernye van die kosstalletjie gesmul.

Franciska Taljaard het al die seuns uitgestof deur drie van die ses grootste visse te haak. Sy was die algehele wenner met ‘n bielie van 4,6kg. Zencoe Woller was derde met ‘n baber van 2, 65kg en Zander van den Heever vierde met ‘n vangs van 2,25kg.

Die wenner se broer, Christaan, het ‘n vyfde plek behaal vir sy vis van 2,2kg. Die Taljaard-span het ook die swaarste sak van 12,25kg gehad.

Die wenners het wonderlike pryse (tot die waarde van meer as R30 000) soos selfone, geskenkbewyse en visstokke gewen, danksy ‘n lang lys borge se vrygewigheid en ondersteuning.

Alle opbrengste is ten bate van Rustig Senior Oord in Witrivier ingesamel en Steel Wings het die totale bedrag geëwenaar.

Dit is Donderdagoggend aan die ouetehuis oorhandig en deur ‘n baie dankbare bestuur ontvang.

Die kompetisie het oorspronklik begin as ‘n bietjie vakansiepret vir die kinders, maar in ‘n groot affêre ontaard wat hengelaars van Mbombela en Witrivier kom ondersteun het. Dit was ook ‘n goeie manier om die jeug aan die sport en stokperdjie bekend te stel en sodat pa’s en hulle kinders saam ‘n prettige aktiwiteit aanpak. Die pa’s moes ook hard werk om aas vir hul eie en ander kinders aan te sit, probleempies uit te stryk en aanmoediging te gee as die vis net nie wou byt nie.

Die organiseerders hoop om die kompetisie op ‘n gereelde basis te hou aangesien daar so ‘n groot aanvraag onder die deelnemers en ouers was en hulle beloof dat dit volgende jaar nog groter pret sal wees.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button