Local sportSport

Atleet het sy oog op die vol Ysterman

Johan Pretorius was deel van die vergrote Suid-Afrikaanse oefengroep vir die Olimpiese Spele in Athene 2004, maar as gevolg van beserings op kritieke tye, het sy kaarthuis in duie gestort.

“As ek atlete soos Johan Cronje (die huidige Suid-Afrikaanse rekordhouer in die 1 500 meter) sien, wonder ek soms of ek nie te vroeg opgehou het nie, maar ek het heelwat met driekamp bereik.”

Die 33-jarige het op die agterblad van Laevelder, Vrydag 25 Maart 2005 gepronk net voordat hy op pad was na Europa om vir die wêreldkampioenskap in Helsinki, Finland te kwalifiseer. “Ek was Europa toe, maar het die kwalifiseringstyd met ‘n minuut gemis.”

Daardie jaar was hy ook na die Wêreld Studente Spele in Turkye waar hy in die uitdunne uitgeval het, maar ‘n wen by die senior SA’s het daarvoor vergoed.

Daardie jaar in Durban was hy met ‘n tyd van 3:43:00 tweede en in Stellenbosch was hy in ‘n tyd van 3:43:00 eerste oor die wenstreep.

‘n Jaar later was hy saam met die nasionale span na die Afrika Kampioenskappe in Mauritius waar hy 11de was.

In 2007 het hy die stad verlaat en teruggetrek Mbombela toe.

“Ek wou graag daardie jaar vir die 2008 Beijing Spele gekwalifiseer het, maar albei my kuite het my moeilikheid gegee.

“Ek was wel SA’s toe in Stellenbosch, maar dit was my laaste.” Daarna het hy met driekamp begin en sy eerste Ysterman 70,3 in 2009 voltooi. “Dit was ‘n groot aanpassing, veral die swem. Ek was gewoond aan kort tye en my eerste ysterman het ek in net oor die vyf ure klaargemaak.”

Pretorius het Lucie Zelenkova Reed, wat die Ysterman al baie van tevore gewen het, tydens die SA’s tweekamp ontmoet waar sy hom toe met swem gehelp het.

In 2010 was hy tweede in sy ouderdomsgroep 25 tot 29 jaar in die Ysterman en 16de algeheel.

Hy was ook na die wêreldkampioen-skappe vir tweekamp in Skotland waar hy in die top-30 geëindig het. ‘n Jaar later is hy wéér na die wêreldkampioen-skappe in Spanje, maar as gevolg van tegniese probleme met sy fiets, het hy nie die wedloop voltooi nie.

Tussen 2011 en 2015 het hy drie Ysterman-kompetisies gedoen, waar hy net twee voltooi het. “Die aand voor die Ysterman in 2013 het ek voedselvergiftiging gehad, maar ek het steeds gaan deelneem.

Ek het die swem en die fietsry voltooi, maar met die hardloop het ek in die mediese tent wakker geword. Hierdie jaar was ek derde by die Bela-Bela Ysterman in die 30- tot 34-jaar kategorie.”

Pretorius beoog om volgende jaar sy eerste vol Ysterman te doen en een ding wat hy wil doen voordat hy rustiger gaan raak, is om vir die Ysterman-wêreldkampioenskappe in 2017 in Kona, Hawai te kwalifiseer.

Hy het die Johan Pretorius Sport Akademie in 2011 begin waar hy met jong opkomende sport-sterre werk.

You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button