Swemfees ‘n eerste in Laeveld
In die afgelope paar jaar het Laevelders die geleentheid gehad om verskillende sportsterre op tuisbodem te sien.
Dink aan die sokkerspeler van Italië, Andrea Pirlo tydens die Sokker Wêreldbeker in 2010, Pumas wat later vir die Springbokke uitgedraf het soos Vincent Koch, die Titans-bouler Albie Morkel en nou vir die eerste keer die goue seun, Chad le Clos.

Die Olimpiese medalje-wenner, is op pad na die Laeveld vir die Suid-Afrikaanse Grand Prix Gala-reeks. Dié reeks bestaan uit vier bene, met die eerste wat Saterdag by die Van Riebeeck Park-swembad afskop.
Swemmers wat reeds vir vanjaar se Rio Olimpiese Spele gekwalifiseer het, Myles Brown en Ayrton Sweeney sal ook die naweek in aksie wees.
Le Clos, Brown en Sweeney was deel van die Suid-Afrikaanse span wat aan die Fina Wêreld-kampioenskappe in Kazan, Rusland deelgeneem het.

Die uiteindelike doel van die reeks wat tot 2020 strek, is om meer hoogstaande kompetisie vir ons land se swemmers te bied.
Dit fokus hoofsaaklik op plaaslike swemmers, maar die reeks is ook oop vir internasionale swemmers sodat SA-swemmers hulle teen van die wêreld se bestes kan meet.
‘n Hele paar plaaslike swemhelde, soos die SA Skole 50-metervryslagkampioen, Liza-Mari Drummond, Christelle Kriel wat tydens die KZN Swemkampioenskappe drie B-kwalifiseringstye vir die Olimpiese Spele geswem het, gaan die waters aandurf.

Mpumalanga se top-swemmer van die jaar 2015, Mel Stronkhorst en Jordyn Minifie, Mpumalanga Swem se 2015 seniorswemmer van die jaar, sal ook hulle kans in die water kry.
Die tweede been van die Grand Prix vind by Kings Park in Durban op 5 Februarie plaas, die volgende een by Newton Park in Port Elizabeth op 19 Februarie en die laaste by die Universiteit van Stellenbosch aan die einde van Februarie.

Albei sessies (Saterdag en Sondag) begin om 12:00 en die finale sal om 18:00 begin. Toegangsfooi beloop R50 per persoon per sessie.
Navrae: Ronel Bekker by bekker.ronel@gmail.com of 079-801-9209.
