Spelers durf die baan aan vir hulle pond vleis
Gholfspelers van Komatipoort het saam met Van Wyngaardt Premium Quality Meat Vryheidsdag op die baan gevier.
‘n Groep gholfspelers van Komatipoort het Vryheidsdag op die gholfbaan gevier. Die dag is deur Van Wyngaardt Premium Quality Meat, ‘n maatskappy met drie generasies se familiewaardes en toewyding aan produkte van gehalte, geborg.
Die manne kon die stokke swaai en ‘n lekker pak vleis vir die vrieskas losslaan.
Die dag was lekker warm soos net Komatipoort kan wees, maar dit het die spelers nie verhinder om ‘n lekker potjie gholf te speel nie. Die formaat van die spel was individuele Stableford en 26 spelers het ingeskryf.
Wenners van die dag was Danny Cato met 38 punte en Jaco Botha ook met 38 punte.
Marina Maritz was die naaste aan die pen op putjies 8/16 en Danny Cato op dieselfde putjies vir die mans.
Gerhard Basson het die beste nege gate gewen en ook ‘n vleisprys losgeslaan.
Die maatskappy gaan Woensdag weer ‘n gholfdag borg met nog lekker pryse op die spel en nooi spelers uit om weer by hulle op die baan aan te sluit.
