Local sportSport

Zim luit nuwe era vir WRK in

Die Suid-Afrikaanse Rugby Unie (Saru) het die bepalings vir die Gold Cup - voorheen die Gemeenskapsbeker - Dinsdag bekendgemaak. Hierdie toernooi is die vlagskip vir die land se nie-universiteitsklubs.

Witrivier Rugbyklub (WRK) het verlede jaar vir dié toernooi gekwalifiseer toe hulle Nelspruit Rugbyklub in die Mpumalanga Superliga 35-34 geklop het. Die span van Witrivier skop hulle veldtog teen Zimbabwe Saterdag 10 September op tuisbodem af.

Witrivier het ‘n paar van hulle sterspelers, soos Jacques Kotze wat moontlik die naweek sy buiging vir die Steval Pumas teen die Blou Bulle kan maak, Deon Scholtz, Pule Sibiya én Theo Kruger wat ook almal ‘n ruk by die Pumas gespeel het, verloor. “Ons sien baie uit na die reeks en is opgewonde oor die nuwe spelers wat deurkom. Die spelers wat ons verloor het, is moeilik vervangbaar. Dit was spelers wat goud werd in ons agterlyn was. Ons werk aan ons diepte en berei in alle erns voor,” het die voorsitter van WRK, Bennie Pringle gesê.

Die 2015-wenners, Durbanville-Belville, kom teen Grens se Mike Pendock Motors Old Selbornians te staan. Boland se Onelogix United Bulk Worcester Villagers speel gasheer vir Tiger Wheel & Tiger Welkom Rovers terwyl die Westelike Provinsie se Direct Axis False Bay, hulle toernooi-debuut teen SA Home Loans Durban Collegians maak.

“Met net vier maande voor die afskop, is ons saam met die klubs opgewonde oor die begin van die Gold Cup-era. Meer as 11 000 toeskouers het die Boland-liga wedstryd bygewoon. Dit is ‘n bewys dat klubrugby oor die jare gegroei het en rugbyaanhangers woon naweek na naweek plaaslike wedstryde by om hulle gemeenskaphelde in aksie te sien. Die toernooi bied ook die geleentheid vir juweelspelers wat voorheen nie raakgesien is nie, om die aandag van groter rugby unies te trek,” het die besturende direkteur van Saru, Jurie Roux tydens die bekendstelling van die bepalings gesê.

Die kwarteindstryd word op Saterdag 15 Oktober beslis.

So speel Witrivier:
10 September
• Witrivier vs. Zimbabwe – Witrivier Rugbyklub
17 September
• SA Home Loans Durban Collegians vs. Witrivier – KP 10 Kings Park Complex, Durban
24 September
• Loslooitjie
1 Oktober
• Witrivier vs. Valke – Witrivier Rugbyklub
5 Oktober
• Direct Axis False Bay vs. Witrivier – Philip Herbstein Field, Kaapstad.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button