Pumas blom in Jakarandastad
Die Steval Pumas het 'n stadige begin tot die kwalifiserende rondes van die Curriebeker gehad, maar het Vrydag op Loftus Versfeld hulle vierde agtereenvolgende oorwinning behaal deur die Vodacom Blou Bulle 25-13 af te ransel.

Die skrumskakel van die Pumas, Reynier van Rooyen het in sy 50ste wedstryd in ‘n Pumatrui uitgedraf, terwyl die flank, Marnus Schoeman in sy 100ste provinsiale wedstryd gespeel het.
Die tuisspan het na 23 minute 10-0 voorgeloop nadat Marquit September vir ‘n drie oorgeduik het. Joshua Stander het twee punte bygevoeg en kort daarna ook met ‘n strafskop deur die pale geslaag.
Die haker, Frank Herne het na ‘n dryfmaalbeweging vir die Pumas se eerste drie oorgeduik. Van Rooyen kon nie vir ‘n beter wedstryd gevra het nie, met ‘n vyfpunter in die 33ste minuut. Die vlugvoetige vleuel, Marcello Sampson, het die telling verder gerek met ‘n drie kort voor rustyd. Die losskakel, Justin van Staden het egter met sy skopskoen gesukkel en die Pumas was met 15-13 kleedkamers toe.
Hulle het in die tweede helfte die meeste balbesit geniet. Hoffmann Maritz het na
14 minute sy span se bonuspuntdrie gedruk. Van Staden het beter in dié helfte gevaar, met een verdoelde drie en ‘n strafskop.
Die Griekwas beklee steeds die eerste plek op die punteleer na ses rondes nadat hulle die Namibiese Welwitschias met 55-25 oorrompel het.
Die Boland Kavaliers met wie die Pumas in die derde ronde 12-10 afgereken het, is tweede nadat hulle afgelope naweek ‘n maklike wedstryd teen die Griffons gehad het.
Die Pumas kom Vrydagaand teen die DHL Westelike Provinsie op Mbombela Stadion te staan. Die Kapenaars lê in die vierde plek op die punteleer met 19 punte terwyl die Pumas derde is met 20 punte.
Vir die wat nie die naweek in Pretoria kon wees nie, hier is ‘n video van die aksie:
https://www.facebook.com/mru.pumas/videos/687242158044873/
Uitslae na ronde 6
• Vodacom Blou Bulle 13, Steval Pumas 25
• Boland Kavaliers 56, Griffons 17
• SWD Arende 30, Valke 32
• Grens 22, Luiperds 34
• Toyota Vrystaat Cheetahs 19, Sharks XV 13
• Welwitschias 25, Griekwas 55
• Westelike Provinsie XV 50, OP Kings XV 10.
Foto’s: Hennie Homann/Steval Pumas en Gordon Arons









