Impalas bly positief na twee naelbyt-wedstryde
Wedstryde teen Barberton en Nelspruit die afgelope twee weke het die Impalas heelwat hoofbrekens besorg.
Die Impalas bly positief na twee naelbytwedstryde die afgelope twee weke.
Die eerste was op 7 Mei in Barberton waar albei spanne in die bitter koue gespook het om die oorhand te kry.
Barberton het die eerste punte aangeteken met ‘n drie wat nie verdoel is nie. Die Impalas het hul bes probeer, maar het ‘n paar foute begaan en kon net nie hulle spel afrond nie. Teen halftyd was die telling 5-0 in Barberton se guns.
Die Impalas het wraak geneem en in die tweede helfte drie drieë teenoor Barberton se twee gedruk. Hulle het egter net een verdoel, terwyl Barberton beide hul drieë met suksesvolle skoppe pale toe afgerond het.
Met die blaas van die eindfluitjie was die telling 19-17 in Barberton se guns.
Komati se drieë is gedruk deur Ruan Prinsloo, Tiaan Fourie en Jan-Hendrik Odendaal. Chris Botha het een drie verdoel.
Die beste voorspeler van die wedstryd was Ruan Prinsloo en die agterspeler wat uitgestaan het was Tiaan Nel.
Die Impalas se wedstryd die afgelope Saterdag teen Nelspruit was ewe spannend, maar met ‘n gelukkiger einde.
Die Impalas het hierdie keer die eerste punte aangeteken danksy ‘n drie deur Ruan Prinsloo na goeie dryfspel van die voorspelers. Dit is egter nie verdoel nie. Daarna het dit gelyk of die Impalas konsentrasie verloor het en Nelspruit het 21 punte aangeteken.
In die tweede helfte het die Impalas ernstig teruggeveg en op hul beurt 20 punte aangeteken. Die spel het gedraai na Marcian Minnaar (vleuel) se drie en Frikkie Odendaal (kaptein) het ook agter die doellyn gaan kuier. Chris Botha het albei drieë verdoel en nog twee strafskoppe oorgesit.
Die goeie pogings het die Impalas ‘n wentelling van 25-21 besorg.
Die voorspeler van die wedstryd was Pieter Engels en Marcian Minnaar die beste agterspeler.
Die span waardeer weereens die getroue ondersteuners wat met beide wegwedstryde saamgereis het.
Die tweede ronde van die liga begin vanmiddag op Komati se velde teen Lydenburg. Die afskop is om 16:00.
Lees oor die Impalas se vorige wedstryde:
Impalas vermorsel Witrivier op tuisveld
Olifante wen harde stryd teen Impalas
Rugby season kicks off with tough matches
