Boorling van Barberton vir Junior Wêreldbeker gekies
Boorling van Umjindi en oud-leerder van Hoërskool Barberton, S'busiso Nkosi, is deel van die Junior Bokkies wat aan die o/20 Rugby Wêreldbeker in Manchester, Engeland van 7 tot 25 Junie gaan deelneem.

Die vleuel, wat na matriek by die Sharks Akademie aangesluit het, was ook die eerste ontvanger van die Clive Hatch-beursfonds wat verseker het dat hy in 2014 sy matriek kon voltooi. Boonop het hy ‘n baccalaureusgraad-toelating verkry deur drie onderskeidings en ‘n B te verwerf.
Op skool was hy nie net prefek nie, maar het ook aan menige buitemuurse aktiwiteite deelgeneem, sy halwe erekleure vir atletiek en volle erekleure vir rugby ontvang. Gedurende sy gr. 11- en matriekjaar by Jeppe Hoërskool vir Seuns, het Nkosi die Goue Leeus tydens die Cravenweek verteenwoordig.
Hy was Dinsdag een van sy span se uitblinkers in ‘n opwarmingswedstryd ter voorbereiding vir die
kampioenskappe teen Maties. Hy het een van die Bokkies se vyf drieë gedruk om met 41-14 te seëvier.
Die Clive Hatch-beursfonds is gestig om finansiële bystand te verleen aan benadeelde seuns van Mpumalanga wat, ten spyte van sekere uitdagings, die wilskrag het om te presteer. Hierdie seuns kry dan die geleentheid om deel te word van die Tsessebe Huis van Jeppe Hoërskool. Die fonds is deur ‘n oud-leerder van die skool op die been gebring.
Die Bokkies was verlede jaar derde in die toernooi. Suid-Afrika het dieselfde toernooi in Kaapstad in 2012 aangebied waar die groen-en-goud die beker verower het.
