Local sportSport

Wendrie in doodsnikke gedruk

Die kragmeting tussen die DHL Westelike Provinsie en die Steval Pumas Vrydagaand op Mbombela Stadion was een groot deurmekaarspul.

Die telling was teen die 76ste minuut nog 20 elk, maar ‘n drie deur die WP-vleuel, JP Lewis het aan die besoekers ‘n wen van 27-20 besorg. Of daardie aangee van Sibahle Maxwane na Lewis vorentoe was, sal nog lank oor bespiegel word, maar nie te min het die skeidsregter, Marius van der Westhuizen die wendrie toegeken.

Reynier van Rooyen.
Reynier van Rooyen.

Die flank, Marnus Schoeman het drie strafskoppe in 12 minute afgestaan wat die Kapenaars vroeg ‘n voorsprong van 9-0 gegee het.

Daarna is die stut, De-Jay Terblanché in die 21ste minuut koelkas toe gestuur. Noodgedwonge moes die loskopstut, Jacques Kotze van die plaasvervangersbank af speel, met die flank, Nardus van der Walt wat die veld moes verlaat het. Schoeman het in dieselfde minuut die veld met ‘n kuitbesering verlaat en net na rustyd is Marné Coetzee óók hinkepink van die veld af met ‘n mediale ligamentskeur.

De-Jay Terblanché
De-Jay Terblanché

Die Pumas verdien ‘n klop op die skouer vir hulle terugvegpoging nadat hulle met 13-17 teen rustyd kleedkamers toe is. “Dit was ‘n wedstryd van verspeelde kanse. Ons het swak begin, veral met die aantal strafskoppe wat ons afgestaan het, maar het goed teruggeveg. Ons het nie ons kanse ten volle benut nie. ‘n Verloor op ons tuisveld is nie goed nie, maar ons gaan probeer om die naweek in Bloemfontein sake reg te maak teen die Vrystaat Cheetahs,” het die Pumabreier, MJ Mentz na afloop van die wedstryd gesê.

Lees ook: Pumas coaching team to stay the same for 2015

Marcello Sampson het in die 29ste minuut vir die tuisspan se eerste drie deurgebreek met Justin van Staden wat verdoel het. Daarna was Van Staden met ‘n strafskop suksesvol om die Pumas in die 35ste minuut met 13-12 te laat voorloop.

Heinrich Steyl
Heinrich Steyl

Lewis het egter sy eerste drie kort voor die rustyd-fluitjie gedruk en sy eie drie verdoel om WP die voorsprong te gee.

Carel Greeff het vroeg in die tweede helfte ‘n vyfpunter gedruk en Van Staden het ‘n verdere twee punte bygevoeg. ‘n Strafskop wat die WP se Scott van Breda deur die pale geklits het, en die drie in die laaste vier minute van die kragmeting, het die Pumas se doppie finaal geklink. “Om hier te kon wen teen ‘n goeie-Pumaspan, was nie maklik nie en ons is baie verlig. Dit was ‘n intense wedstryd wat enige kant toe kon gegaan het. Die twee groot aanspraakmakers, wat moet kwalifiseer, is die Pumas en Griekwas beslis die twee spanne wat dit kan doen,” het die afrigter van die WP, John Dobson, gesê.

Lees ook: Greeff word ook ‘n Puma

Justin van Staden
Justin van Staden

Hennie Skorbinski het gister vir x-strale gegaan na ‘n nekbesering, en sukkel ook met ‘n kuit en regter bo-arm spier. Schoeman het ook las van ‘n kuitbesering en is tussen vier en ses weke buite aksie.

Die Pumas het van die derde plek op die punteleer afgeskuif en lê nou vyfde met 21 punte. Die Griekwas beklee steeds die eerste plek met 34 punte.

Lees ook: Rugbyspeler se spinnekopbyt erger as verwag

So lyk die res van die naweek se uitslae:
• Valke 22 vs. Boland Kavaliers 24
• OP Kings 15 vs. Vrystaat Cheetahs 35
• Steval Pumas 20 vs. DHL Westelike Provinsie 27
• Luiperds 42 vs, Welwitschias 17
• Sharks XV 16 vs. Goue Leeus 53
• Griffons 34 vs. Grens 23
• Griekwas 39 vs. Vodacom Blou Bulle 38.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button