Local sportSport

Impalas laat hulle deur niks stuit nie

Ten spyte van 'n speler wat per ambulans die veld moes verlaat, het die Impalas Saterdag 'n puik houding op die veld getoon en 'n oorwinning teen die Lydenburg Rooikatte behaal.

Lydenburg se Rooikatte het Saterdag in Komatipoort hard teen die Impalas geveg om wraak te neem nadat hulle tydens die eerste ronde van die liga op hul tuisveld verloor het.

Die Komatipoort-ondersteuners was vol lof vir hul span se dissipline en deursettingsvermoë, veral nadat speler Ruan Prinsloo teen die einde van die eerste helfte die veld per ambulans met ‘n ernstige beenfraktuur moes verlaat. Hy het dié besering tydens ‘n pragtige lopie op die doellyn van Lydenburg opgedoen.

Prinsloo is in Nelspruit Mediclinic opgeneem en hoewel hy volgens sy vrou baie pyn het, gaan dit goed met hom. Hy het Sondag chirurgie ondergaan en Maandag het vriende laat weet dat hy in die hoësorgeenheid opgeneem is. Teen Dinsdoggend het sy toestand gelukkig verbeter.

In die eerste helfte het heelagter Brennon Jordaan na ‘n goeie beweging ‘n drie aangeteken. Die doelskop was egter nie suksesvol nie.

Komati het nog ‘n strafskop aangeteken, terwyl die Rooikatte ‘n drie gedruk en dit verdoel het. Dit het die rustydtelling op 8-7 in die guns van die tuisspan te staan gebring.

Die spel is hier onderbreek toe Prinsloo beseer is en voortgesit nadat hy deur  dr. Theo Stronkhorst op die veld so gemaklik as moontlik gemaak is.  Die rugbyspeler is per draagbaar, nog met ‘n glimlag, in die ambulans geplaas.

Die tweede helfte het direk hierna begin en was ewe opwindend. Chris Botha het nog twee strafskoppe oorgesit en Lydenburg het ‘n drie gedruk en verdoel. Dit het die telling weer gelykop gebring met 14 punte elk.

Die spanning het hoog geloop en die manne het hul bes probeer om weer voor te loop. Die Impalas het in die doodsnikke van die wedstryd nog twee strafskoppe afgedwing, wat netjies deur Chris Botha oor die pale gestuur is.

Die verligting was groot toe die eindfluitjie blaas en Komati met 20-14 wen. Selfs die skeidsregter het groot lof gehad vir die Impalas se houding op die veld.

Die voorspeler van die wedstryd was Tiaan Fourie, terwyl Jan-Hendrik Odendaal die beste agterspeler was.

Saterdag gaan die Impalas weer die Olifante aandurf, dié keer op Malalane. Die spanne skop om 16:00 af en die toegangsfooi is R10 per persoon.

Komati het die in die eerste ronde teen Malelane verloor, maar is vasbeslote dat dinge Saterdag anders gaan wees.

Getroue ondersteuners van albei spanne word genooi om hierdie Onderberg-derby te kom geniet.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button