School sportSport

Lanies se eerste krieketspan kry provinsiale kleure

Laerskool Malelane se eerste krieketspan het verlede Woensdag Laerskool Marietjie van Niekerk geklop en is as die Mpumalanga-wenners vir mediumskole aangewys.

Dit was ‘n besonderse geslaagde krieketseisoen vir Laerskool Malelane, met die o/9-krieketspan wat al hulle wedstryde in die vriendskaplike liga gewen het asook die o/11- en eerste span wat as die provinsiale wenners vir mediumskole aangewys is. (Lees hier oor die o/11-span se prestasie.)

Die eerste span is as Mpumalanga wenners gekroon na ‘n oorwinning op hulle tuisveld teen Laerskool Marietjie van Niekerk verlede Woensdagmiddag.

Laerskool Malelane is gevra om eerste te kolf, maar het klei getrap en die topkolwers was gou terug op die paviljoen. Die span het egter hard teruggeveg en 128 lopies aangeteken voordat die laaste kolwer bes moes gee.

Die Bethal-span se kolwers het gesukkel teen die Lanie-boulers en het vinnig paaltjies afgestaan. Die span kon slegs 64 lopies aanteken.

Twee van Laerskool Malelane se boulers het uitgeblink. Hamzah Patel het vyf paaltjies geneem en slegs 18 lopies afgestaan en Keagan Jansen van Vuuren het vier paaltjies geneem en 32 lopies afgestaan.

Die Lanies se eerste span het ‘n uitstekende seisoen beleef en het 13 van hulle 14 wedstryde gewen.

Die skool bedank elke ouer en borg wat hulle gedurende die afgelope seisoen ondersteun het. Dit word opreg waardeer en daar word met groot afwagting na die 2017-seisoen uitgesien.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button