Lydies gasheer vir atletiekskouspel
Vanjaar se interlaer-atletiekskouspel word vir die eerste keer in sewe jaar deur Laerskool Lydenburg aangebied.

Die tema vir die dag is Sterre in Spykerskoene en die byeenkoms vind Vrydag 17 Februarie op Hoërskool Lydenburg se sportgronde plaas.
“Dit is ‘n groot jaar vir Laerskool Lydenburg. Elke jaar kry die gasheerskool die geleentheid om te wys wat in hom steek en Lydenburg gaan nie terughou nie. Dit is vir ons baie spesiaal dat al die laerskole van die Laeveld die moeite doen en groot koste aangaan om vanjaar die hele pad na Lydenburg te reis,” het die hoof Cornelus Lemmer gesê.
Daar word ongeveer 800 atlete en 1 500 toe-skouers op die dag verwag.
Die optog begin om 07:15. Al die kosstalletjies word deur die kerke in die dorp behartig wat as ‘n gemeenskaps-projek dien.
Sien ook: Lydenburg se atlete oortref op die baan en veld by interlaer
Toegangs-kaartjies kan by die deelnemende skole, laerskole Nelspruit, Barberton, Bergland, Laeveld, Witrivier en die gasheerskool teen R20 elk gekoop word. Daar sal ook kaartjies by die hekke beskikbaar wees en programme kos R10.
“Ons het besluit om ‘n medalje vir die interlaer te ontwerp wat uniek aan ons dorp en omgewing is. Die Longtompas is ‘n uitstaande landmerk en ons het besluit om dit as tema vir ons medaljes te gebruik. Ons wil graag ons hoofborg van die dag, Obaro, bedank wat diep in hulle sakke moes delf om die dag aan te bied,” het Lemmer gesê.
