Local sportSport

Gimnaste verwerf 13 medaljes by Zone-kompetisie

Lede van AeroArt Gimnastiek-akademie in Komatipoort het gimnaste van regoor die noordelike helfde van Suid-Afrika in verskeie items uitgestof.

Met elegante bewegings en ‘n tikkie glans het ritmiese gimnaste van AeroArt Gimnastiek-akademie in Komatipoort medaljes by verlede naweek se Noordelike Zone-kompetisie verwerf.

Maryna Opperman en Leani Lombard het bronsmedaljes verwerf. Tyla-Ann Dibb, Chelcy Steyn, Meya Kleynhans, Lili Goncalves en Meagan du Preez het silwer gewen. Sherice Gilliland, Elzane Gilliland, Cor-lee van der Walt, Ydene Smith en Courtney Steyn het goue medaljes gekry. Katelyn Williams het ‘n goue en silwermedalje ingepalm.

Die kompetisie is by die Klipriviersberg-ontspanningsentrum in Johannesburg gehou en sowat 765 gimnaste van Mpumalanga, Noordwes, Limpopo, Vrystaat, KwaZulu-Natal en Gauteng het daaraan deelgeneem.

Vyftien gimnaste van AeroArt is na provinsiale proewe in Mei gekies om Mpumalanga by die kompetisie te verteenwoordig.

Dit was die klub wat verlede jaar gestig is, se eerste buiging op die kompetisie. Klublede se prestasies het ook gesorg dat hulle kompetisie-kalender op ‘n hoogtepunt afgesluit het.

Al die gimnaste het aan vrye dans deelgeneem. Vlak 1-gimnaste moes ook ‘n roetine met ‘n tou doen, die Vlak-2s het die tou vir ‘n hoelahoepel verruil en die Vlak 3-gimnaste moes hul vaardigheid met die bal toon.

Sherice Gilliland, Chelcy Steyn, Elzane Gilliland en Cor-lee van
der Walt.

Afrigter Ezielle Basson vertel dat dit baie fokus en passie verg om in ritmiese gimnastiek te presteer. “Terwyl hulle dans moet hulle verseker dat hulle nie die apparaat laat val nie en op die ritme van die musiek bly.”

Die beoordeelaars is beïndruk deur die klublede se prestasies in hul eerste jaar van kompetisie. Veral aangesien hulle slegs twee dae per week vir hoogstens 60 minute per klas vir kompetisies oefen en voorberei.

AeroArt se gimnaste was baie opgewonde om die provinsie te verteenwoordig en te sien hoe hulle harde werk vrugte afwerp. Om vir die Zone in aanmerking te kom, moes hulle tydens die Mpumalanga-proewe bo 22 uit 30 vir twee items saam behaal. Al 15 deelnemende gimnaste van die klub het dit reggekry.

LEES: Komati gimnaste kry goud by eerste provinsiale kompetisie

Basson sê die groep gaan nou eers weer volgende jaar aan kompetisies deelneem. Gimnaste berei nou voor om weer met die vlakke op te beweeg na die nasionale kompetisies. Hulle moet eers aan klubkompetisies deelneem, daarna word hulle gekies vir provinsiale proewe. Die Zone en laastens die SA’s is hulle doelwit.

Die klub het sowat 65 gimnaste en bied ritmiese en trampoliengimnastiek aan. Met ritmiese gimnastiek dans hulle met ‘n bal, tou, lint en hoelahoepel. Trampoliengimnastiek behels akrobatiese bewegings op ‘n trampolien.

Die groepe het twee keer per week op verskillende dae klas by die Hervormde Kersaal in Liebenbergstraat.

Basson sê die klub se droom is om eendag hulle eie gebou te hê waar hulle kompetisies kan aanbied.

Hulle sal ook graag gimnaste wil help om internasionaal deel geneem. Dit vereis egter baie uithouvermoë en passie om daarby uit te kom, vertel sy.

Sy nooi belangstellende gimnaste om by die klub aan te sluit. “Hulle het ‘n positiewe houding nodig, maar as hulle nie een het nie, dan bou ons vir hulle een. Ons is ‘n vreeslike opbouende klub en lief vir mekaar.”

Basson sê sy kan sien hoe vriendskappe tussen kinders vorm wat dit regtig moeilik vind om ‘n plekkie te kry waar hulle tuis voel. “Dis die lekkerste gedeelte van my werk om te sien hoe kinders voor my oë begin groei en blom.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button