PROGRAM: Robbies berei voor vir Danie Rossouw Rugbyweek
Dié rugbyweek, wat Maandag afskop en tot 21 Maart duur, is vernoem na Rossouw wat een van die gasheerskool se grootste sportsterre was.

Groot opgewondenheid heers oor die jaarlikse Danie Rossouw Rugbyweek wat vir die sesde jaar deur Hoërskool Rob Ferreira aangebied word.
Dié rugbyweek, wat Maandag afskop en tot 21 Maart duur, is vernoem na Rossouw wat een van die gasheerskool se grootste sportsterre was. Hy het reeds vir die Bloubulle, Springbokke, Briste en Ierse Leeus, Suntory Sungoliath en Toulon uitgedraf.
Skole van regoor die land, so ver as Kaapstad, het al voorheen hier kom meeding en vanjaar is geen uitsondering met 13 skole en 800 spelers tussen die ouderdomme van o/14 en eerste spanne, wat die week sal bywoon.
Wedstryde begin om 08:15 met die laaste wedstryd wat om 19:00 op die A-veld sal plaasvind. Woensdag is ‘n af dag waar spanne die Laeveld kan verken voor hulle Donderdag hulle laaste wedstryde speel en huiswaarts keer.
Alle wedstryde word ook opgeneem vir die afrigters van Mastercoach, Ian Mcdonald, Herkie Kruger en Pietie Meyer, om hulle spanne haarfyn te ontleed.
Vanjaar word twee spanne vir die eerste maal sedert die toenooi se ontstaan gekies om die land teen plaaslike skole in Rusland te gaan verteenwoordig.
Die skole wat gaan deelneem is soos volg:
• Hoërskool Ben Viljoen
• Hoërskool Bergvlam
• Hoërskool Brandwag
• Curro Hazeldean
• HTS Witbank
• Hoërskool Kanonkop
• Hoërskool Overkruin
• Hoërskool Rob Ferreira
• Hoërskool Stofberg
• Lowveld High School
• Matsulu Rugbyklub
• Penryn College
• Uplands College.

