Local sportSport

Goud by SA’s vir NHS se topatleet

Zander van der Merwe is na afloop van die byeenkoms as die land se beste o/17-seunspiesgooier met 'n afstand van 65,5 m, benoem.

Van die Laeveld se beste atlete het die afgelope naweek skoonskip by die SA Atletiekkampioenskappe in Port Elizabeth gemaak.

Veertien van hulle het 19 van die provinsie se medaljes ingepalm en ‘n leerling van Hoërskool Nelspruit het boonop ‘n goue medalje vir spiesgooi verower – die enigste Laeveldse atleet wat dié spogprestasie kon vermag.

Zander van der Merwe is na afloop van die byeenkoms as die land se beste o/17-seunspiesgooier met ‘n afstand van 65,5 m, benoem.
Hy is van kleins af baie mededingend en lief vir sport en het in die laerskool onder meer gimnastiek, atletiek, krieket, hokkie, swem, rugby, krygskuns en tweekamp beoefen. Hy is lief vir die natuur, visvang en jag en is sedert gr. 9 in NHS se revue. Tussendeur is dit ook vir hom belangrik om nie sy skoolwerk af te skeep nie.

Hy was veral ‘n kranige swemmer en het op laerskoolvlak provinsiale kleure in swem en tweekamp verwerf.

Tydens sy hoërskoolloopbaan het hy besluit om sy visier op atletiek, hokkie en krieket te stel en het hy provinsiale kleure in laasgenoemde twee sportsoorte verwerf.

“Hy het so vroeg as gr. 10 vir NHS se eerste krieketspan sy staal gewys en het vanjaar vir die eerste keer provinsiale kleure in atletiek verwerf.

Sy pa Pieter, self ‘n kranige spiesgooier en voormalige WP- en Matie-kampioen, het hom in gr. 7 aan die sport blootgestel. Hy het hom van kleins af geleer dat hy hard moet werk om nuwe hoogtes in sport te bereik.
“Harde oefening verg dissipline en dit vloei later deur in jou professionele lewe,” het Pieter aan Laevelder vertel. Hy het aan SA Universiteite- en Senior kampioenskappe in die laat sewentigs deelgeneem, waar hy sy beste afstand van 79 m behaal het.


DP Badenhorst, NHS se worpe-afrigter en een van die land se voorste spiesgooiafrigters, stap ‘n pad saam met elkeen van sy atlete en is bereid om persoonlike tyd op te offer ter wille van die atleet, en met Zander is dit geen uitsondering nie.

Die leerder het ‘n natuurlike aanvoeling vir spiesgooi wat baie van goeie tegniek afhang. Hy bestudeer huidige top Duitse spiesgooiers Thomas Rhoeler en Johannes Vetter noukeurig met hulle beste afstande van 90 m vir inspirasie.

Zander het in gr. 8 (o/14) 35 m gegooi en nie die interhoërspan vir NHS gehaal nie, maar die daaropvolgende jaar (o/15) behaal hy vierde plek met sy afstand van 43 m, en in gr. 10 tweede met ‘n afstand van 53 m. In gr. 11 het hy ‘n reusesprong na eerste plek gemaak met ‘n afstand van 63 m, verbeter die interhoërrekord na 67 m, en verwerf eerste plek by die superinterhoër. Hy wen ook in die jaar die Mpumalanga-kampioenskappe en behaal ‘n persoonlike beste afstand van 69 m op Ruimsig Stadion. Hy verteenwoordig die provinsie die naweek by die ASA-byeenkoms in die Paarl vir seuns o/18.

“Hy wil op sy huidige prestasies voortbou en sy spiesgooi tot volle potensiaal ontwikkel. Hiervoor moet hy oorweeg om ‘n volledige winterprogram te doen, veral omdat hy volgende jaar met die swaarder 800 g-spies moet meeding,” vertel Pieter.
“Hy is baie beskeie en weet dat sy talente van God kom en dat Hy al die eer moet kry,” het hy afgesluit.

Hier is ‘n lys van die ander 13 medaljewenners:
Silwer
Rob Ferreira
• Vuyo Ndlovu in 100 m
• Xolani Lekhuleni in skyfwerp
• Vuyo Ndlovu en Junior Mondlane in die medley-aflos
NHS
• Douw Kruger in gewigstoot
• Ashley Erasmus in skyfwerp en gewigstoot
• Shenese de Clerck in hoogspring
• Jaytee Boers in die 800 m
• Lourens Potgieter in medley-aflos.
Brons
Rob Ferreira
• Lesedi Dibakoane in driesprong
• Thapelo Nkuna in driesprong
• Nhanhla Maseko in 400 m.

Fitness tested during Halls Cross-Country

Hokkiespelers gee hul alles in 43 wedstryde

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Stefan de Villiers

Stefan de Villiers, based in Mbombela, Mpumalanga, is currently the Editor at Lowvelder. He brings a wealth of knowledge and experience from previous roles at Lowveld Media, such as Sports Editor, Journalist and Photographer. He started on November 1, 2013.
Back to top button