Daar is geen keer aan die Nellies nie
Om ‘n medalje by die SA’s te verower is die droom van enige hardwerkende atleet.

Om ‘n medalje by die SA’s te verower is die droom van enige hardwerkende atleet. Vanjaar het NHS se sterre veel meer vermag toe twee van hulle ‘n pragtotaal van agt medaljes (twee goud, ses silwer) huis toe gebring het.
Die skolekampioenskappe het die naweek van 21 to 23 Maart te Port Elizabeth plaasgevind, met ASA se nasionale byeenkoms vir jeug (o/18) en juniors (o/20) wat van 28 tot 30 Maart in die Paarl aangebied is.
Toe Gauteng-Noord se Markus Kotzé in PE die gewigstoottitel (seuns 17) met ‘n reusestoot van 19,70 m ingepalm het, was Nellies se Douw Kruger (19,25 m) amper ‘n halwe meter agter in die silwermedaljeposisie. Daar is sekerlik verwag dat Markus ook die jeug titel sou wen, maar NHS se Douw het ander planne gehad. Hy het losgetrek met ‘n allemintige 19,99 m.
Douw rig sy visier op Afrika-kampioenskappe
Markus was wel tweede, maar dié keer ‘n volle 1,05 m agter Douw. Tans beklee Douw die nr. 2-posisie op die wêreldranglys, met net Trinidad en Tobago se Jeron James (21,92 m op 14 Maart, te Port of Spain) wat vanjaar al ‘n beter afstand kon haal. Goud by die komende Afrika-kampioenskappe in die Ivoorkus is sekerlik nou in Douw se visier.
Goud by SA’s vir NHS se topatleet
Zander van der Merwe (seuns 17) het sy persoonlike beste deur die seisoen telkens van byeenkoms na byeenkoms verbeter. Toe hy eers deur die 60 m-grens gebreek het, was daar geen keer aan hom nie. Alhoewel hy vanjaar reeds spog met ‘n persoonlike beste van oor die 69 m, was ‘n “beskeie” 65,50 m goed genoeg om Zander in PE as die nuwe SA spiesgooikampioen vir 17-jariges te kroon. Gauteng se Ruan Human (64,26 m) moes met silwer tevrede wees. Al kon Zander in die Paarl nie sy prestasie herhaal nie, kan hy heel trots voel op die 62,11 m (vierde) wees wat hy daar gegooi het.
Nellies het ook ses silwermedaljes verower. Bo-aan die lysie moet die naam van gr. 8-leerling Ashley Erasmus uitgesonder word. Om in die geselskap van jou “seniors” (Ashley is vanjaar nog o/14) tweede in gewigstoot vir meisies 15 te eindig, wil gedoen wees. Ashley se 14,54 m het haar vorige Nellie-rekord van 13,82 m uit die rekordboeke gevee. Die wenner, Zonica Lindeque van Gauteng met 14,55 m, het sekerlik ‘n sug van verligting geslaak toe die item afgehandel was.
Ashley se tweede silwer was in skyfwerp, waar sy met 42,27 m ook korte mette van haar rekord van 38,56 m gemaak het.
Gedurende die seisoen het Jaytee Boers konstant in die 800 m (seuns 19) presteer. Daar is dan ook verwag dat hy ‘n goeie kans staan om die eindronde in die item op SA’s te haal. Jaytee het egter getoon dat hy meer as dit kon doen deur sy aan sy met T. Nwagu van Gauteng wenpaal toe te beur.
Uiteindelik slaag die Gautenger net-net daarin om in 1:51,71 (teenoor Jaytee se uitstekende 1:52,10) goud voor die Laevelder weg te raap. In die Paarl het Jaytee met ‘n goeie 1:54,26 (derde in die uitdun) net-net nie vir die eindronde gekwalifiseer nie.
Die ongelooflike 1,75 m wat Shanese de Clerck by die Laeveld-inter in hoogspring (meisies 14) gehaal het, is nog vars in die geheue. Konstante vertonings het daarop gedui dat sy ‘n krag by die nasionale byeenkoms kon wees – wat dan ook die geval was.

Shanese (nog o/14) het voortreflik presteer, al moes sy, soos Ashley, teen die o/15’s meeding. Net Gauteng se Micaylee Botha (1,71 m) kon haar (1,68 m) van goud weerhou. Shanese se 1,75 m bly egter steeds die beste hoogte vanjaar deur ‘n 14-jarige.
Lourens Potgieter (seuns 17) moes vanjaar teen uiters strawwe mededinging in die naellope aantree. Hy het vasgebyt en op Secunda sy plek in die Mpumalanga-span verseker. Al moes Lourens in die individuele items die knie buig, spog hy ook vandag met silwer nadat hy lid was van die provinsiale span wat tweede in die wisselaflos (verskillende afstande) geëindig het. Mpumalanga (1:58,74) is gevolg deur Vrystaat (1:59,74). Die wenners was Gauteng met ‘n tyd van 1:52,95.
Foto’s: Riaan Swanepoel
