Dra jou Pumas-pienk dié Saterdag
Die Airlink Pumas pak die Windhoek Draught Griekwas Saterdag, 2 Desember, by Nelspruit rugbyklub aan in die eindstryd van die Airlinkbekertoernooi.
Die Airlink Pumas het Saterdag, 25 November teen die NovaVit Griffons in Kimberley te staan gekom vir hulle derde wedstryd in die Airlinkbekertoernooi.
In versengende hitte het die Laeveldse manne alle krane oopgedraai om hulle Welkomse teenstanders met ‘n manjifieke 73 punte teenoor 5 te klop. Met dié telling het hulle vyf punte op die punteleer bygevoeg en beklee hulle nou die tweede plek onder die Windhoek Draught Griekwas, wat op hulle beurt met die Luiperds afgereken het.
Die Pumas se hoofbreier, Jimmy Stonehouse, sê dat hoewel hy tevrede met sy span se vertoning is, hulle foutfaktor steeds te hoog was. “Ons wou die Griffons van hulle voete af hardloop en die vaste fasette wen, wat ons wél reggekry het.”
LEES OOK: SANParks to receive R700m for upgrades
Dít is een van die aspekte wat hulle vir seker sal wil regruk voor dié naweek se kragmeting met die Griekwas, Saterdag, 2 Desember. Die twee boonste spanne op die punteleer gaan mekaar in die eindstryd ontmoet, elk met die hoop om die eerste Airlinkbeker omhoog te lig.
Die Pumas en die Griekwas het mekaar in die eerste ronde van die toernooi ontmoet. Soos oudergewoonte met dié twee gedugte teenstanders wat mekaar gereeld in die Curriebekerreeks aanvat, was dit ‘n wipplankaffêre. Die manne van Kimberley het met ‘n skrale drie punte se verskil die oorhand gekry.
Nes destyds beloof die eindstryd ook om toeskouers op die punte van hul stoele te hou.
LEES OOK: FOTO’S EN VIDEO’S: Genadewater omskep die Krugerwildtiun se natuurskoon in poskaartoomblikke
“Ons gaan vir seker probeer om ons vorige foute reg te stel,” vertel Stonehouse. Hy sê dat hulle nie regtig na die opkomende wedstryd as ‘n ‘wraakwedstryd’ wil verwys nie, maar dat die span hulle 100% wil gee in alles wat hulle op die veld doen, en dat hulle hopelik só die wa deur die drif kan trek.
Kombineer die Pumas se uitstekende spelpeil met ‘n tuisvoordeel, en dit mag dalk net ‘n wenresep wees.
Die eindstryd skop om 15:00 by die Nelspruit Rugbyklub af. Voor hierdie kragmeting pak die Luiperds en Griffons mekaar om 13:00 aan.
LEES OOK: Jack Russell of a Mbombela family deals with venomous snake.
“‘n Tuiswedstryd beteken altyd baie, en met ons Mbombela-ondersteuners agter ons kan dit net goed gaan!
“Ons hoop om baie mense daar te sien. ‘n Mens kry nie altyd die geleentheid om rugby in Desember te kyk nie, wat nog te sê in Mbombela!”
Stonehouse nooi alle Pumas-ondersteuners uit om hulle gazebo’s te kom opslaan en hul vure langs die veld aan te steek.
“Kom ondersteun ons soos jy altyd doen, kom in die vakansiebui en kuier lekker saam!”
Kaartjies vir Saterdag se wedstryde beloop R50 per persoon en is by die hek beskikbaar.
Toeskouers kan ook kies om ‘n gazebostaanplek rondom die veld, met 10 kaartjies ingesluit, teen R1 500 te bespreek.
Kontak Hanlie by 082 856 8525.
