Local news

FOTO’S EN VIDEO’S: Genadewater omskep die Krugerwildtiun se natuurskoon in poskaartoomblikke

Wilna Wheater deel van haar kosbare beeldmateriaal wat sy tydens ’n onlangse besoek by die Krokodilbrughek geneem het.

Na dié week se feitlik onuithoubare hitte, en met die heerlike reënbuie en donderstorms wat die aarde nou plek-plek natmaak, deel Wilna Wheater van haar pragfoto’s en beeldmateriaal wat sy in die Krugerwildtuin geneem het.

Lees ook: VIDEO: Krokodille verorber bok in Krokodilrivier by Marlothpark

Volgens Wheater is daar niks so poskaartmooi soos ’n nuwe seisoen wat aangekondig word nie, soos wanneer die wolke begin opbou en saampak met die belofte van reën.

Foto’s: Wilna Wheater

“Ek noem dit genadewater. Niks laat ’n eens ’n dor droë wildtuin lewe kry soos genadewater uit ons Skepper se Hand nie. Waar daar water is, is daar lewe. Mens, diere, voëls en plante floreer van goeie reën,” sê Wheater.


Sy vertel dat dit vir haar verbasend is hoe ’n enkele reënbui die droë veld binne ’n week in ’n Eden kan omskep nie. “Dit is dan in die wildtuin se gras, bome en vol riviere, en alle wildsoorte spog met nuwelinge.”

Lees ook: Wilde Woensdag saam met Wilna Wheater

Sy sê dat dit vir haar ’n verstommende gesig was om soveel wildsoorte naby die Krokodilbrughek bymekaar te kon sien loop, tydens een van haar onlangse besoeke in die wildtuin na ’n goeie reenbui.


“Dit het kompleet gelyk soos die Serengeti, soos wat dit van wildsoorte gewemel het. Dit was voorwaar ’n gesig, en ’n groot seën om so iets te kon aanskou. Die vrede en blydskap van oorvloedige groen weiding vir die verskillende wildsoorte wat saam wei was sigbaar. Dit was so mooi om hulle te sien bokspring van vreugde, want daar was oorvloedige groenigheid.”

Dié natuurliefhebber en kranige fotograaf vertel dat genoegsame gras en groen blare na die reën die ooie en koeie se melkproduksie aan die gang kry vir hulle nuut gebore lammetjies.

 

“Met die aanvang van die reënseisoen sien jy hoe diere na riviere wat ’n lafenis bied toe stroom, want die somerhitte kan temperature tot oor 40ºC laat styg. Sommige diere koel in die riviere af en ander les hulle dors. Hoe ook al die nood. Water is ’n lewensnoodsaaklikheid.”

Laevelders kan elke Woensdag na haar foto’s en video’s, wat sy in die wildtuin en Marlothpark vasgevang het uitsien. Die storie agter die beeldmateriaal sal ook verskyn.

Hou Laevelder se blaaie dop: Facebook, YouTube, TikTok, Instagram en Twitter (X).

Wil jy ook graag jou wilde wildtuinfoto’s en video-ervaringe met ons deel?

E-pos gerus: bertus@lowvelder.co.za

 
Back to top button