Local sport

IN FOTO’S: Tweekampsterre trotseer reën en strawwe kompetisie in Witrivier

Die harde reën het die atlete nie ontmoedig nie, en almal het hul beste gegee om medaljes te verower.

Talentvolle tweekamp-atlete van regoor Suid-Afrika het reën en strawwe kompetisie aangepak tydens die Mpumalanga Tweekamp Interprovinsiaal wat die afgelope naweek in Witrivier plaasgevind het.

Die interprovinsiale byeenkoms is op Saterdag, 10 Januarie, by Hoërskool Rob Ferreira aangebied. Atlete van Suid- en Noord-Vrystaat, Gauteng-Noord en Limpopo het saamgetrek om teen Mpumalanga se bestes mee te ding. Die week voor die kompetisie het die weervoorspelling egter kommerwekkend gelyk, met swaar reën wat voorspel was.

Soos verwag het die reën die aand voor die kompetisie neergedaal, wat die atletiekbaan besonder nat gelaat het. Ongestoord deur die vorige aand se weer het die atlete egter opgedaag, vasbeslote om hul beste te lewer. Verskeie atlete van regoor die provinsie het die pad na Witrivier aangedurf om deel te neem.

Giann Wessels. > Foto: Blake Linder
Giann Wessels. > Foto: Blake Linder

Ná ‘n kortstondige verligting het die reën weer begin neerstort – ‘n onverwagte seëning wat gehelp het om die atlete tydens die intensiewe kompetisie af te koel.

Atlete, van die o. 8’s tot die 70+-ouderdomsgroep, moes verskillende afstande om die atletiekbaan voltooi voordat dit tyd was vir die tweede been van die kompetisie: swem. Met die reën wat voortgeduur het, was die swem items aansienlik meer uitdagend. Die verskillende ouderdomsgroepe het elk hul onderskeie afstande geswem en alles in die stryd gewerp om die beste moontlike tye aan te teken.

Ané Plath. > Foto: Blake Linder
Ané Plath. > Foto: Blake Linder

Die atleet wat die meeste punte aangeteken het tydens die hardloop-been was Carel Snyman met 1 043.78 in die meesters mans 70+-kategorie. JB Eksteen in die senior mans kategorie was die beste swemmer met 991.14 punte.

In die laerskolekategorie was Laerskool Witrivier die wenners, met Komatipoort Akademie tweede en Curro Nelspruit derde. Hoërskool Nelspruit het die hoërskolekategorie gewen, met Hoërskool Rob Ferreira tweede en Curro Nelspruit weer derde.

Die victor ludorum vir die o. 9- tot o. 13-kategorie was Adrian Lopes, terwyl Riley Adams as victrix ludorum aangewys is. In die o. 15- tot o. 19-
kategorie is die trofeë aan David de Villiers en Chiniq Breet toegeken, en in die junior volwassenes tot meesterskategorieë aan Carel Snyman en Jane Koeglenberg.

> Foto’s: Blake Linder

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Blake Linder

Blake Linder is based in Mbombela and is a Senior Journalist at the Lowvelder. He carries with him nearly a decade's worth of experience in media. He has previously worked as News Editor, but now primarily focuses on Sport News, having previously won awards for both his sports writing and photography.
Back to top button