Spelers wys wie is baas in die Witrivier-krieketweek
Laerskool Nelspruit se o/13 A-krieketspan het al vyf hulle wedstryde in die Witrivier-krieketweek gewen.

Die manne het hul eerste wedstryd teen Kruinpark gespeel. Die besoekers van Secunda het 56 lopies in 20 beurte aangeteken. Nellies het maklik dié telling gemaak en het in 10 beurte dit aangeteken om met ses paaltjies te wen. HM Swart van Bethal was tweede op die lys.
Hulle het 245 lopies in 30 beurte vir nege aangeteken terwyl HM Swart net 51 lopies in 25 beurte vir nege kon aanteken. Nelspruit het die wedstryd met 194 lopies gewen.
Nellies was óók te sterk vir Goedehoop en het hulle met 183 lopies in 30 beurte vir agt met ‘n wentelling van 103 lopies kafgedraf. In die voorlaaste-wedstryd het dié spogspan Kragbron ook die loef afgesteek en in 12 beurte en met vier paaltjies gewen. Nellies het met hul laaste wedstryd teen Dalview van Brakpan te staan gekom. Dalview het 104 lopies in 20 beurte aangeteken. Nellies steek die telling verby in net 15 boulbeurte en het die wedstryd met nege paaltjies gewen.
Mathee Joubert is as die beste kolwer van die week met 160 lopies aangewys terwyl John Helm Brink as die beste veldwerker met drie ongelooflike vangkanse gekroon is. Die beste boulers was Chyle Van Zyl en Triston Parnell met nege paaltjies elk.
