Langbeen op pad na Mauritius
Kampioen verspringer sal as deel van die Suid-Afrikaanse skolespan aan die Afrikaspele deelneem.
MBOMBELA – Die skole is weer oop en die meeste leerders fokus nou op hul wintersportligas, maar vir Hoërskool Bergvlam se atlete het hul atletiekseisoen tydens die skoolvakansie voortgeduur. Die Suid-Afrikaanse Junior Atletiekkampioenskap is verlede naweek in Bloemfontein aangebied.
Maudas Banda was in die seuns o/17 verspring in aksie. Hy het die item gewen met ‘n afstand van 7,37 meter. Dié ster het verlede jaar ook ‘n goue medalje vir die seuns o/17 losgespring by dieselfde byeenkoms wat toe in Stellenbosch aangebied is. Sy beste afstand was toe 7,33 meter.
Boonop vertrek hy Woensdag na Mauritius om as deel van die Suid-Afrikaanse skolespan aan die Afrikaspele deel te neem. Die skool het laat weet hulle is baie trots op die kampioen.
“Ons sien met groot verwagting uit na wat hy daar gaan bereik.”
Ander atlete van die skool wat by die afgelope nasionale kampioenskap deelgeneem het was Kabelo Theledi wat die seuns o/15 in verspring, driesprong en 300-meterhekkies verteenwoordig het. Hy kon ‘n sesde plek in driesprong behaal.
Njabuliso Ngomane het aan die dogters o/19 400-meterhekkies en driesprong deelgeneem en kon ‘n 10de plek behaal.
