Laerskool Numbi kry hokkiespelers reg vir volgende seisoen
Laerskool Numbi is vreeslik opgewonde oor die hokkie seisoen wat afskop na die Julie vakansie en het onlangs 'n hokkiekliniek vir spelers en afrigters gehou.
Om die spelers en afrigters reg te kry vir die seisoen wat voorlê, het die skool ‘n hokkiekliniek verlede Saterdag gehou. Mnr. Ryan McCarthy en mnr. Berny Wheeler van Curro Nelspruit is genooi om dit te kom aanbied.
Die personeel het reëlbesprekings bygewoon waar hulle oor reëlveranderings ingelig is en ook oulike idees vir afrigting gekry het.
Die o/9- tot o/13-hokkiespelers het nuwe vaardighede, tegnieke en taktieke soos aanval en verdedig asook doeltelling aangeleer. Die noodsaaklikheid van spesiale vaardighede is egter beklemtoon.
Spelers is gelei en die geleentheid gegee om die nuwe vaardighede en mededingende wedstryd-situasies te oefen. Die fokus was op die span dinamika en posisionele spel en blootstelling aan nuwe taktiek.
