Bergies se eerstes maak geskiedenis met die kolf
Hoërskool Bergvlam se eerste krieketspan het verlede week geskiedenis gemaak deur vir die eerste keer in die geskiedenis die Ehlanzeni-liga te wen.

Wat dit net nog meer merkwaardig maak, is dat Vlammies die liga onoorwonne afgesluit het, wat ook ‘n eerste vir die eerste span is. Die seisoen is met ‘n besondere oorwinning teen die buurskool, Lowveld High School afgesluit.
Bergvlam het eerste gekolf en 238 lopies aangeteken met Aiden Soine wat 52 met die kolf bygedra het en goed deur Francois Pauw, met 37, ondersteun is.
Lowveld High het die tuisspan behoorlik laat sweet toe dit hulle beurt met die kolf was. Op ‘n stadium, met hul telling van 150 lopies vir die verlies van slegs twee paaltjies, het dit gelyk of Lowveld die wedstryd gemaklik gaan wen.
Dit was egter toe dat die boulaanval van die Vlammies hul stempel afgedruk het en die laaste agt paaltjies van LHS laat kantel het om die gaste vir 214 lopies uit te boul.
Deon Olivier spog met drie paaltjies in sy sewe beurte en is deur Juan Pretorius bygestaan wat self drie paaltjies geneem het.
Toe die laaste een van Lowveld High se kolfbeurt in die laaste beurt val, het die feesvieringe vir Hoërskool Bergvlam begin.
“Dit was ‘n ongelooflike seisoen. In die wedstryd teen Lowveld High is dit die eerste keer dat ‘n span meer as 150 lopies teen ons kon aanteken.
“Op ‘n stadium was die spelers bekommerd, maar soos dwarsdeur die seisoen, het hulle aangehou veg en nooit opgegee nie.
“Die harde werk en toewyding van die span het gelei tot ‘n seisoen wat hulle nooit sal vergeet nie. Ons gaan die prestasie behoorlik vier en dan, na die skoolvakansie, op die uitspeelwedstryde begin fokus,” het die afrigter, Rihan van der Merwe gesê.
